“Om ’n onderwyser te wees, is ’n edele beroep.” Só sê die onderwyser Mandy Nero van Noordhoek Primêr.

Nero is tans ’n gr. 3-onderwyser by die skool waar sy ook ’n rol as graadleier vertolk, asook waarnemende departementshoof is.

Nero sê sy het al van kleins af geweet onderwys is die beroep wat sy eendag wou volg. “Ek onthou hoe ek my ma se mure en kasdeure volgeskryf het. My ouers het my aangeraai om verder te gaan studeer. Ek het gehou van die idee om met kinders te werk,” vertel Nero.

Sy sê haar onderwysers het hierdie beroep baie interessant gemaak.

“Ek was as kind van mening dat onderwysers super slim is en wou ook só slim wees. Ek beskou myself as ’n geroepe onderwyser en dit bied my die geleentheid om my passie vir die professie en kinders ten volle uit te leef.”

Nero het in 2009 by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Wellington aansoek gedoen, waar sy haar onderwysgraad met die hulp van haar ouers en Lucia Swanepoel van Hoërskool Weston verwerf het.

Haar aansoek om ’n NSFAS-beurs is aanvaar.

“NSFAS het my studies vir die volle tydperk van vier jaar ten volle betaal. Ek was ook baie gelukkig om toelating tot een van die koshuise, Huis Meiring, te verkry.”

Nero sê onderwys is die mees vervullende werk. “Dit is ’n beroep waar jy as mens waarlik groei, as jy jouself toelaat. Hierdie is die enigste beroep waar jy elke dag hoor iemand is lief vir jou, waardeer jou en sien jou moeite en laat aande en ekstra een-tot-een-tyd met ’n leerder wat dit nodig het.”

Nero deel graag dat die kollegas met wie sy ’n hegte band het en op staat kan maak om hul pligte en verantwoordelikhede na te kom, ook ’n absolute hoogtepunt is.

Sy sluit af met die woorde van Linda Darling-Hammond: “Teaching is a profession on which all other professions depend.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 6 November 2025
    Weslander E-Edition – 6 November 2025