Onderwys in W-Kaap onder groot druk

Meer as 100 000 leerders het reeds vir die 2019-skooljaar aansoek om toelating in Wes-Kaapse skole gedoen.


Meer as 100 000 leerders het reeds vir die 2019-skooljaar aansoek om toelating in Wes-Kaapse skole gedoen.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR van onderwys, sê in ’n verklaring die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het vroeër vanjaar ’n nuwe aanlyngerief vir ouers bekend gestel om aansoeke om toelating by openbare skole te help naspoor. Dit is gedoen om die druk te verlig weens die hoë volume navrae ten opsigte van aansoeke om toelating.

Die nuwe stelsel stel die ouer of voog in staat om die WKOD se webtuiste na te gaan of ’n aansoek wat by ’n skool ingedien is, op die stelsel vir die bestuur van inligting oor toelatings by skole (Sami) te volg.

Aansoeke vir die 2019-skooljaar het 23 Maart gesluit. Data van die stelsel het 29 Maart 67 718 aansoeke vir gr. 1 tot gr. 12 getoon, asook 27 489 gr. R-aansoeke en 50 646 unieke aansoeke.

Altesame 16 886 aansoeke is reeds by skole aanvaar. Dit sluit gr. R en gespesialiseerde ondersteuningsklasse uit.

Volgens die WKOD was laat inskrywings vanjaar een van die hoofredes vir die laat plasing van leerlinge in skole vir die 2018-skooljaar.

’n Bykomende 25 000 leerlinge het die Wes-Kaap aan die begin van die 2018-skooljaar binnegekom. Al die leerlinge is by skole geplaas.

Teen begin April het nóg 3 000 leerlinge na die provinsie verhuis. Hulle moes ook op kort kennisgewing in skole geplaas word.

Om te probeer tred hou met die groei in die provinsie sal sewe nuwe skole en nog drie wat ander vervang, vanjaar voltooi word.

Meer as 130 000 leerlinge het die afgelope vyf jaar van ander provinsies na die Wes-Kaap verhuis. Hulle kom hoofsaaklik uit die Oos-Kaap.

Dit kos die WKOD na raming R1,1 miljard meer om dié leerlinge te huisves.

Vanjaar moes die WKOD meer as R350 miljoen vir nuwe aankomelinge vind.

Dit sluit nie infrastruktuur in nie.

Dit plaas groot druk op die onderwysstelsel en hulpbronne.

Finansiering vir inkomende leerlinge is nie genoeg nie en is gegrond op ou inligting, soos die vorige jaar se Snap-peiling en die peiling oor algemene huishoudings, sê die WKOD.

Daar is ’n groot behoefte aan infrastruktuur om die groei in getalle van leerlinge te kan hanteer.

Sonder die nodige finansiering deur die nasionale tesourie – en die besnoeiing van die infrastruktuurtoelae – is daar egter ’n groot moontlikheid dat projekte vir die ontwikkeling van infrastruktuur vertraag sal word.

Volgens Schäfer is sy hoopvol dat die meeste ouers hul kinders betyds inge­skryf het.

Ouers wat getalm het, moet dit dadelik doen en na hul naaste WKOD-distriks­kantoor gaan, die toelatingswebwerf besoek of die inbelsentrum by 0861 923 322 skakel.

Aansoeke kan nagegaan word op die WKOD se webwerf – gebruik die skakel Frequently Asked Questions – Learner Enrolments. – Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.