Piketberg-landdroshof hoor tans die saak aan teen ‘n vermeende kinderverkragter.

‘n Man van iets in die vyftig jaar word van die seksuele aanranding van ‘n 13-jarige meisie in Piketberg aangekla.

Billy Claasen, ‘n gemeenskapsleier, het ‘n petisie uitgereik en hy vra die publiek om dit te teken om borgtog vir die beweerde oortreder teen te staan.

Billy Claasen, gemeenskapsaktivis.

AO Silke Lourens, ‘n woordvoerder vir die Piketberg-polisiedistrik, het bevestig dat ‘n man vir beweerde seksuele aanranding en verkragting in hegtenis geneem is.

Die petisie lui verder dat die staatsaanklaer, die hof en die polisie die erns van die saak moet erken. “Seksuele misbruik van ‘n minderjarige is een van die skadelikste misdade, met langtermyn- emosionele, sielkundige en sosiale gevolge.

Slagoffers ly dikwels aan trauma, vrees, depressie, angs en probleme as hulle sonder ondersteuning moet praat.

“Om hierdie rede doen ons ‘n beroep op die polisie om te verseker dat die kind onmiddellike toegang tot ‘n sielkundige of opgeleide kinderberader kry sodat sy haar storie veilig kan vertel.

“Indien hierdie man op borgtog vrygelaat word, sal dit verdere trauma vir die kind veroorsaak en haar weens intimidasie of druk om stil te bly, in gevaar stel. Sy vrylating kan die ondersoek belemmer en tot die vernietiging van bewyse lei.

“Ons doen dus ‘n beroep op die staatsaanklaer en die polisie om borgtog teen te staan, die kinderslagoffer te beskerm asook om die ondersoek uit te brei, aangesien ander gevalle van misbruik of verwante bekommernisse kan bestaan. Die welstand van hierdie kind moet eerste kom.

“Ons vertrou dat die staatsaanklaer en polisie sal verseker dat reg sal geskied.”

Die man het op Vrydag 12 September die eerste keer in die Piketberg-landdroshof verskyn. Hy het weer op Maandag 6 Oktober in die hof verskyn waar die saak tot Vrydag 17 Oktober uitgestel is vir slotbetoë in die borgtogaansoek.

• Die petisie kan onderteken word by petitions.com/no_bail_for_an_adult_male_who_allegedly_sexually_assaulted_a_13_year_old_girl?utm_source=whatsapp

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025