Die ondersoek na Leo Williams (9) se dood is in ‘n gevorderde stadium.
Dít was die inligting wat vandag (Donderdag 10 September) met Cathy Thomas, die Laingville-gemeenskap en lede van die media gedeel is. Jeniffer Ntlatseng, direkteur van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het verduidelik ‘n Opod-beampte is tans besig om die gemeenskap oor dié vordering van die ondersoek in te lig. “Die werk is nou om die toneel te herskep om só meer klarigheid te kry oor wat gebeur het. Dit is ‘n belangrike deel van die ondersoek. Ballistiese toetse word gedoen en die geregtelike doodsondersoek is reeds afgehandel,” het sy verduidelik.
Leo was Vrydag 31 Julie vermoedelik deur polisielede in die kop geskiet terwyl hy in sy oom se huis in Laingville televisie gekyk het. Die skietery het gekom nadat diensleweringsoptogte in die buurt uitgebreek het. Hy is later in die Rooikruis-kinderhospitaal oorlede nadat dokters bepaal het dat hulle niks meer vir hom kon doen nie. Volgens Thomas, Leo se grootmaakma, is die belangrikste nou dat geregtigheid vir haar seun geskied.
Opod se besoek was deel van ‘n uitreikprogram om bewusmaking oor Opod se doen en late aan inwoners in die provinsie te verduidelik.