Onderrig in huistaal gee die voorsprong

Moedertaalonderrig is nie net die beste vir jou kind nie; ware vaardigheid in ’n tweede of meer tale is heelwat moeiliker indien hy nie eers in sy huistaal leer lees het nie.


Moedertaalonderrig is nie net die beste vir jou kind nie; ware vaardigheid in ’n tweede of meer tale is heelwat moeiliker indien hy nie eers in sy huistaal leer lees het nie.

“Jou eerste taal dien as ’n kruk waarop jou tweede taal kan leun. As jy dus vaardig is in jou huistaal, leer jy die tweede een baie vinniger en meer doeltreffend aan,” sê dr. Michael le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudie in die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

“Ware meertaligheid, tweedetaalvaardigheid, is eintlik nie moontlik sonder moedertaalonderrig nie. Dit is nie ’n spesifieke taal – soos Engels, Frans of Duits – wat jou die voordeel gee nie; dis jou moedertaal wat jou ’n voorsprong gee,” beaam Deidré le Hanie, besturende direkteur van die ATKV.

“Engels is nie die probleem of gevaar nie. Dit is wonderlik dat ons Engels ook in ons taalarsenaal kan hê. Die groot probleem ontstaan wanneer moedertaalonderrig nie plaasvind nie,” sê Deidré oor die onmisbaarheid van Afrikaanse onderrig van Afrikaanssprekende kinders.

Sy meen die wanopvatting bestaan kinders sal Engels beter kan praat as hulle in Engels skoolgaan, maar “in talle studies is reeds bewys nie-Engelssprekende leerders wat Engels as tweede taal op skool aanleer, kan aan die einde van hul skoolloopbaan ewe goed Engels praat as hul eweknieë wat net in Engels skoolgegaan het”.

Hy is maar nou eenmaal sy moedertaal, skryf prof. Hans du Plessis, ’n Afrikaanse skrywer en digter.

“Afrikaans as sodanig het net so min of so veel ’n bydrae tot ’n demokratiese Suid-Afrika te maak as Engels of Sepedi of Zulu. Dit is nie die taal wat ’n bydrae maak nie. Dit is individue en groepe wat van Suid-Afrika ’n sukses maak.

“Vir my as Afrikaans­sprekende is my beste bydrae dié wat ek in Afrikaans uitdink en formuleer – tot voordeel van die hele Suid-Afrika, bloot omdat dít vir my die medium is waarin ek droom, dink en doen. Dit is makliker om my Afrikaanse bydrae te vertaal as om dit in enige ander taal uit te dink,” sê Hans.

Michael sê dit is vir hom belangrik dat kinders, veral in die Wes-Kaap, onderrig in hul moedertaal ontvang, met Engels as ’n tweede taal en dan as ’n bykomende taal Xhosa aanleer.

“As jy voorskools en op laerskool in jou huistaal klas kry, het jy ses maande tot sowat twee jaar se akademiese voorsprong bo kinders wat nie in hul moedertaal onderrig word nie,” sê hy oor die onmisbaarheid van Afrikaans vir skoolkinders in die Wes-Kaap.

Kinders wat nie in hul moedertaal opgevoed word nie, daarenteen, het lewenslank ’n agterstand. “Dit kan jou hele skoolloopbaan beïnvloed.”

Kinders leer deur te lees, en wanneer jy in jou moedertaal onderrig kry, help dit jou om beter te lees – wat eindelik lei tot beter leer, verduidelik hy.

Nog ’n opvoedkundige voordeel van moedertaalonderrig, veral vir kinders in hul vormingsjare (tussen een en ses jaar oud), is volgens Michael dat hulle konsepte vinniger aanleer.

Leerders wat in hul huistaal skoolgaan, slaag inderdaad beter, sê Deidré. “Kyk gerus na matriekuitslae. Dit gaan oor die ontsluiting van kennis in die moedertaal.” – Netwerk24.

You need to be Logged In to leave a comment.