Almal wil graag deel wees . . . of dit nou is van ’n kerk, ’n klub, ’n familie, ’n vriendekring of selfs by die werk.
Ons het ’n hunkering om iewers te pas; te voel dat daar ’n spesiale plekkie vir jou is waar mense jou waardeer vir wie jy is.
Mense raak sielsongelukkig wanneer hulle begin voel dat ander hulle nie raaksien nie en nie hul bydrae na waarde skat nie.
Hulle raak só ongelukkig dat dit omsit in bitterheid, renons en woede.
Die outomatiese reaksie van ons mensdom is om ons te wip en weg te stap.
Die probleem dáármee is die vele waardevolle verhoudinge wat opgegee word, want baie keer is die “oortredings” van ander ’n selfgemaakte persepsie – iets wat in ’n individu se kop broei en groei tot iets wat dit nooit was nie.
My ma het altyd gesê: As jy verveeld is, is dit omdat jy vervelig is, menende dat ons interessante goed moes uitdink om ons ledige uurtjies mee te vul.
Dieselfde geld iemand wat die heeltyd soos ’n slagoffer voel en meen almal is daarop uit om hom of haar te benadeel – miskien is jy die probleem.
As mense dalk net ’n bietjie meer verdraagsaam oor hulself kan raak en eerstens hulself aanvaar soos wat hulle is, al is hulle nie maer, ryk of slim genoeg nie, sal die klein jakkalsie van verwerping nie so maklik ’n houvas kry nie.
Mense hanteer jou soos wat jy hulle toelaat om jou te hanteer.
My dogter vertel gereeld vir my dat my resting bitch face meer van ’n nice friendly face is wat mense uitnooi om my maar ’n bietjie stadiger te bedien in ’n restaurant, want, ag wat, sy sal mos nie omgee nie.
Of hulle sal gou die klant help wat met melodrama by die deur inval met ’n groot storie om dadelik gehelp te word, al staan daar drie mense – resting nice face onder hulle – al baie lank in die ry.
My een vriendin het altyd gesê ouers moet versigtig wees om nie hul kinders se “stemme” onbedoeld weg te neem nie, want dit veroorsaak grootmense sonder stemme wat nie hulself kan laat geld nie; wat dinge vat en vat en op ’n dag (skielik?) ontplof wanneer iemand weer eens in ’n ry voor hulle indruk.
Maar kom ons verwar nou nie die self-uitgebroeide idee dat mense jou altyd uitskuif met ’n gesukkel om jouself te laat geld nie.
Laasgenoemde het ook baie met fisieke grootte te doen. Mense kom stamp en skuur nie teen die grootste ou in die vertrek nie. Hulle kies maar ’n paadjie verby die kleinste en kortste persoon wat toevallig glimlag.
Verwerping is ’n kragtige emosie wat al tot vele gebroke verhoudinge gelei het, want mense wat verwerp voel, meen dit is nie die moeite werd om verder aan ’n verhouding te werk nie.
Dit is hier waar ’n goeie nie-konfronterende gesprek die uiteinde van ’n verhouding kan draai.
Want in die meeste gevalle is die “oortreder” nie eens bewus van die erge gevoelens van verwerping wat hul optrede hul vriend, kollega of familielid laat ervaar nie.
Daar is geen waarborg nie, maar uit my ondervinding kan ’n sagte woord of ’n omgeehandeling baie ver strek.
Mense wat al baie in hul lewe seergekry het, val bitter vinnig terug na ’n plek van verwerping waar hulle hulself oortuig niemand gee om nie.
Dis ’n kragtige wapen in die vyand se arsenaal om iemand waardeloos en ongeliefd te laat voel.
Miskien moet ons meer gereeld na onsself kyk en ons afvra of daar dalk iemand in ons kringe is wat ons optrede teenoor hulle so kan verstaan?
Dis makliker om te sê verbeel jou jy staan in iemand anders te skoene as om jou dit werklik in te dink.
Elkeen is besig met hul eie stryd.