My vriendin se ma, tannie Barbara Swart, is as kind ná baie toetse en besoeke aan spesialiste uiteindelik met kinderverlamming gediagnoseer.

Aanvanklik het niemand geweet wat fout was met haar nie. Sy het sommer net omgeval, met die gevolg dat sy bykans elke been in haar liggaam gebreek het. Sy het ook al so baie operasies ondergaan dat haar familie by haar 37ste operasie ophou tel het.

Destyds kon geen regte diagnose by haar bevestig word nie en gevolglik het sy nie die regte behandeling ontvang nie.

Die verlamming het spiere en senings beskadig en uiteindelik is bevestig dat sy ‘n wanbalans in haar rugmurg het.

Vandag bring sy die meeste van haar tyd in die bed deur, maar steeds sal sy nooit daaroor kla nie.

Sy vertel graag staaltjies oor haar kinderdae – haar lewe op die plaas.

Dan sal sy ook graag vertel hoe die dokters koppe bymekaargesit het om vir haar ‘n baarmoeder te “bou” en dat sy twee gesonde kinders in die wêreld gebring het. Die hele buurt se kinders was elke dag by haar huis – dit was die groot bymekaarkomplek. Meubels is vir haar ook aardse goed en sy sal gou vertel watter kind se tandmerke is vandag nog in die sitkamer se bank ingeprent.

As iemand ‘n probleem gehad of ‘n slaapplekkie nodig gehad het, het haar deur altyd oopgestaan. Sy was en is steeds die ma vir almal; altyd bereid om te luister en raad te gee.

As jy haar vra hoe dit gaan, sal sy altyd sê: “Deur genade gaan dit altyd goed met ons. Daar is soveel in die lewe om voor dankbaar te wees.”

Hul geloof is die laaste jaar weer sterk beproef toe haar man, wat ‘n diabeet is, in die hospitaal ‘n virus opgedoen het. Hy was vir die grootste deel van die jaar in en uit in die hospitaal, afgesonder van die res van die hospitaal. Steeds het hulle positief gebly.

Sy en haar man lig elke dag die hande in gebed vir almal wat dit nodig het en enigiemand wat dit nodig het, is by hul gebedsketting welkom.

Elke oujaarsaand bly hulle wakker om die Nuwejaar met gebed in te gaan en dan te bid vir almal wat op die pad is en om die nuwe jaar te seën.

Die kringe waarin jy beweeg, kan jou positief of negatief beïnvloed. As jy elke dag met negatiewe mense te doen het, is die kanse goed dat jy ook negatief gaan wees.

Die kanse is eintlik beter dat jy die negatiewe gedrag gouer as positiewe gedrag sal lok. As jy iemand ken wat byvoorbeeld nie ‘n produk sal koop sonder om na die vervaldatum te kyk nie, sal jy sonder dat jy dit besef, ook eers na die produk se vervaldatum kyk voordat jy iets koop.

As iemand in jou binnekring elke dag vir jou vertel hulle het ‘n pyn of skeet, of hoe moeg hulle is, sal jy kort voor lank ook iewers ‘n pyn of skeet ontwikkel.

Kenners beweer dit neem ongeveer 21 dae om ‘n gewoonte aan of af te leer. Soms kan dit langer of korter wees; dit hang basies af hoe geneig jy is om in gewoonte te verval.

Baie mense het ook ‘n verslawende geaardheid – dit kan kos, inkopies, studies of oefening wees. Dus moet jy jou groep reg kies, want die kanse is goed dat jy die positiewe of negatiewe gedrag sal aanleer. Bykans 8,2 miljard mense is op aarde. Hoekom sal jy jou ophou met afbrekende en negatiewe mense?

Onthou – jy is nie ‘n boom nie; beweeg aan. Kies om jouself met mense te omring, soos tannie Barbara, wat al soveel terug- slae beleef het, maar steeds positief bly en vir ander uitkyk.

Elkeen verdien so iemand, en as jy nie so iemand ken nie, wees jy daardie mens vir iemand anders.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025