Om die Berg – in modder

Aurora was vroeg verlede Saterdagoggend (24 Augustus), al op en wakker en aan die gang terwyl ’n koue misreën uitgesak het.


Aurora was vroeg verlede Saterdagoggend (24 Augustus), al op en wakker en aan die gang terwyl ’n koue misreën uitgesak het.

Vanjaar se Om die Berg, geborg deur Boland SuperSpar in Piketberg, het meer inskrywings as tevore gelok.

Fietsryers, wat nie voorheen van Aurora geweet het nie, het opgedaag.

Aurora Om die Berg word elke jaar deur die NG gemeente Aurora gereël.

’n Hele aantal boere en ondernemings in die omgewing werk ook saam om die bergfiets-uitdaging oor 55 km moontlik te maak.

Die reën het sommige deelnemers laat twyfel of hulle die uitdaging regtig moet aanpak. Toe die fluitjie blaas, spring die hele groep egter weg en trap deur die ergste modderpaaie wat Aurora Om die Berg seker nog beleef het. Die koue en reën het ’n gemiddelde bergfietsren omgeskep in ’n epiese uitdaging deur water, modder en baie moeilike steiltes.

Die deelnemers se uithouvermoë en stamina is tot die uiterste beproef.

Terwyl die fietsryers besig was met die stryd Om die Berg, het nog ’n groep aan ’n rustiger stap, trap en draf deelgeneem. Al het dit by tye gereën, was almal in ’n gemoedelike stemming.

Gelukkig was daar lekker warm pannekoeke, koffie en braaivleis om die koue te trotseer.

Die eerste ryer oor die eindstreep van Om die Berg 2024 was Matthew van Niekerk en kort op sy hakke was Erhard Blom. Die eerste vrou was Shena Hardy en sy is gevolg deur Roelien Lourens.

You need to be Logged In to leave a comment.