Ek word altyd gefassineer deur die passievolle weergawes van pryssangers by ’n belangrike sportgebeurtenis, soos ’n kragmeting van ons geliefde Springbokspan. Ek het dit so ’n paar maande gelede by die inhuldiging van ons land se president ook waargeneem. Daardie pryssange word gevul met die gepaste mate van lof, vreugde, respek en waardering vir dié wat dit toekom.
Vir my is dit gepas dat ons hierdie maand, nasionaal bekend as Vrouemaand, al die lof en akkolades waaraan ons kan dink, aan al ons dapper vroue in Suid-Afrika toeswaai. Die moeilike vraag is waar begin ’n mens en wie is waardig om erkenning as vrou te ontvang vir die noemenswaardige bydrae wat hulle in die samelewing en gemeenskap maak?
Ek sal graag ’n paar van ons merkwaardige vroue wil uitlig, wat volgens my mening gewis die prysliedere en woorde werd is. Dit doen ek in geen spesifieke volgorde van belangrikheid nie. Ek doen hierdie vreugdestaak soos dit in my gees opkom.
Ek hef ’n pryssang aan elke mamma wat ’n seun of dogter het wat vasgevang is in die kloue van dwelmverslawing. Mamma, ek kan my net indink hoe bitter swaar dit vir jou moet wees om daagliks deur daardie hel te moet gaan. Hoe jy nie vir jou kind die stukkie brood kan weier as hy of sy dit vir jou vra nie. Hoe jou moederhart ineenkrimp as jy agterkom dat daar nog iets uit jou huis weggeraak het en jy uiteindelik die keuse moet maak om jou lieflingkind toegang tot die huis te weier, want jy kan net nie meer die verlies, vernedering en sielspyn verduur nie. Ek sing vir jou ’n pryssang omdat jy ten spyte van jou omstandighede steeds nie versuim om vir jou verdwaalde lieflingkind te bid nie. Jy behou die geloof en hoop dat die spreekwoordelike donker wolk ’n silwer rand sal hê … ook vir jou en jou gesin.
Ek hef ’n pryssang aan vir elke mamma wat die fisieke nood in ons arm gemeenskappe raaksien en die besluit geneem het om haar hart en hand oop te maak en die nood te help verlig. Ek en ons staan verstom hoe jy, Mamma, dit telkemale regkry om met die min wat jyself het, nog die monde van ander te kan voed.
Mamma, jy weet van die antie op die hoek se kind wat swaartrek. Jy weet daardie gesin het dit nie breed nie. Jy weet hoe daardie kind meer as een keer honger moes gaan slaap en die volgende oggend skool toe moes gaan, want dis die kind se matriekjaar. Ek bewonder die moederlike besorgdheid as jy daardie gesin onder jou vlerk neem en taktvol die nodige sal doen … die kospakkie om deur die week te kom, die paar rand om krag te koop sodat die kind vanaand kan studeer vir die toets en die paar skoolskoene vir die kind wat jy as skenking van ’n weldoener ontvang het. Jy weet van die nood in jou gemeenskap. Jy doen jou liefdestaak met respek, waardigheid en liefde en jy laat nie toe dat die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie.
Ek hef ’n pryssang aan vir die mammas wat ’n stem van geregtigheid is vir ons vroue wat die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld is. Ons salueer jou, dapper mamma, wat nie skroom om by ’n hof te gaan betoog vir weiering van borgtog vir die monster wat een van ons kinders in die gemeenskap verkrag het nie. Jy staan op vir hulle wat aan die ontvangkant van die wrede misdaad was. Jy gaan uit jou pad om daardie slagoffer en dié se familie by te staan deur die traumatiese ervaring wat hulle te beurt geval het, en jy sal nie rus totdat geregtigheid geseëvier het nie.
Ek sing ’n pryssang vir die mammas wat in die gaping staan vir ons weerlose kinders. Baie van hierdie kinders eindig, weens omstandighede, in kinderhuise, plekke van veiligheid en selfs jeuggevangenisse. Baie van hierdie mammas het nie eens kinders van hul eie nie, maar word hul mammas (kinders in nood) wat op daardie tydstip die liefdevolle sorg, aandag en liefde van ’n mamma nodig het.
Dis jou helende liefde wat baie van hierdie kinders op die regte koers gelei het en hierdie einste kinders blom vandag as suksesvolle volwassenes in die beroepswêreld.
Die een besonderse eienskap wat ek glo elkeen van die bogenoemde mammas in gemeen het, is die feit dat hulle biddende mammas is. Nie perfekte mammas nie, maar biddende mammas – vir hulself, maar meer nog vir hulle wat in nood is vir die daarwees van ’n dapper mamma.
Ek wens ek kon nog meer mammas by my bogenoemde lysie voeg, maar dan gaan ek ’n volwaardige boek oor die spesifieke onderwerp moet skryf. En vir die mammas wat dalk voel dat sy nie so ’n wonderlike taak verrig as die hartklop van die huis nie, wil ek net noem dat jy geensins sleg hoef te voel nie, want jy doen jou bes … solank jou beste in liefde gedoop is!
Vreugdevolle Vrouemaand!