Ná jare in die “plakkertjie-bedryf” het Marius Fourie besluit om iets nuuts te beproef en só is CNC Routing Vredenburg onlangs gebore.
Marius het drie maande terug sy nuwe besigheid saam met sy seun Christo in Vredenburg se nywerheidsgebied geopen.
Die twee het besluit hulle is moeg van plakkers en eenvoudige plakkate maak en wil graveerwerk doen.
Danksy hul nuwe CNC Routing-masjien kan enige ontwerp op glas, perspex, hout of byna enige ander materiaal gegraveer word.
“Toe ons voorheen signage gedoen het, het mense gereeld gevra vir uitgesnyde naamborde, maar ons moes dit altyd Kaapstad toe stuur omdat niemand hier rond dit gedoen het nie. Daar was beslis ’n leemte in die mark,” verduidelik Marius.
Geen projek is te groot of te klein nie en alles van naamborde tot sleutelhouers kan vinnig uitgesny word. Die masjien sny tot op die millimeter. Volgens Marius is daar byna geen idee wat nie ’n werklikheid gemaak kan word deur die masjien nie. Kliënte kan hul ontwerpe na die besigheid bring waarna dit in die verdiepskaafmasjien geplaas word om ’n presiese replika te sny.
Mense wat nie kunstig is nie, hoef nie te vrees nie aangesien die twee Fouries graag met ’n ontwerp vorendag kom. Meubels, kamerafskortings en gegraveerde horlosies is reeds gemaak.
Die twee toets ook gereeld die masjien om te kyk wat hulle alles kan optower. Dis hoe hulle begin het om spykerlose meubels te maak wat eenvoudig inmekaar skuif. Hierdie meubels is beskikbaar op aanvraag.
Nader die CNC Routing Vredenburg-span by 073 003 0611 (Marius) of 071 200 2795 (Christo) of stuur ’n e-pos na mariussigns@gmail.com. Loer op hul Facebookblad (CNC Routing Vredenburg) om te sien waaraan hulle werk.