Ná langer as ’n jaar van konstruksiewerk is die Hoërskool Moorreesburg uiteindelik voltooi.
Die projek van R65,7 miljoen beteken nou die dorp het ’n splinternuwe opvoedkundige fasiliteit in die streek.
Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, sê die projek het werk aan 152 werkers, 120 jeugdiges, 31 vroue en drie mense met gestremdhede gebied. Ses nasionale jeugdiensleerders het ook aan ’n mentorskapprogram van ses maande deelgeneem.
“Ek is verheug om hierdie nuus – die voltooiing van hierdie projek – te deel. Baie leerders kan uitsien om die 2023-skooljaar in een van die beste fasiliteite wat in hierdie land gebou is, te begin. Dit is noodsaaklik vir ons om voortaan in ons onderwys-infrastruktuur te belê. Daardeur sal ons toekomstige leiers van gehalte produseer. Hierdie projek het reeds bewys dit is tot groot voordeel vir die plaaslike gemeenskap deur vele ekonomiese geleenthede en vaardigheidsontwikkeling te verskaf,” meen Simmers.
Onderrig sal volgende jaar begin en sal deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) bestuur word.
“Die leerders van hierdie skool kan uitsien na wêreldklas-leerder- en onderrigfasiliteite, wat ongetwyfeld sal bydra tot verbeterde onderwysuitkomste,” het Simmers gesê.