Weskus Media kondig aan dat Alida Buckle, ‘n ervare joernalis en redakteur wat haarself oor die jare in verskeie rolle in die mediabedryf bewys het, as redakteur van Weslander en Weskus Nuus aangestel is. Sy het reeds voorheen dié rol vervul – van 2005 tot 2010.
Alida het haar tande as joernalis by Witbank Nuus en die dagblad Beeld geslyp, waarna sy getroud is met haar man, Louis Buckle, en die platteland haar tuiste gemaak het. Sy was eers die kuns- en vermaakredakteur by die destydse Northern Review & Times in Polokwane (Pietersburg) en het sedert 2000 verskeie rolle by Weskus Media gespeel.
Alida se hart klop sedertdien pure Weskus. Haar kinders, Marcus en Blaze, is in die Weskus gebore en haar wortels lê diep. Buiten redakteur het haar langtemyn- werksverhouding by Weskus Media haar ook in die rol van joernalis, promosiekoördineerder, groep-subredakteur en verbruikersjoernalis vir die Boland Media-groep gesien. Sy het vir die afgelope twee jaar teruggekeer na haar wortels en gedoen wat sy lief het – om ‘n diens aan die Weskus-gemeenskap te lewer deur as joernalis mense se stories op te teken.
Alida is bekend vir haar deernis vir ander en haar voorliefde om ander se passies te verwoord. Sy skroom egter ook nie om oor ongerymdhede te skryf nie – maar eers ná deeglike navorsing.
Haar toewyding het haar verlede jaar die toekennings as Boland Media se Joernalis en Fotograaf van die Jaar asook die Beste Human Interest-artikel van die Jaar besorg.
Sy sien daarna uit om Weskus Media in ‘n groter hoedanigheid te dien en te deel in die historiese veranderings in die digitale era.
Alida ken die hartklop van die Weskus en vertrou dat Weskus Media sal groei en floreer.