Yolani Abrahams en Herman Lessing is die aanbieders van die nuwe Kokkedoor-reeks: Son en see. Foto: Gys Loubser

Vir die tiende seisoen van kykNET se gewilde kos-werklikheidsreeks Kokkedoor trek die program nie net ‘n ander voorskoot aan nie, maar kry dit ook twee nuwe beoordelaars.

In sy volgende gedaante gaan die reeks as Kokkedoor: Son & See bekendstaan, terwyl die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32) gaan besluit watter deelnemers koning kraai.

kykNET soek nou na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember ‘n hoofgereg op die kykNET-spyskaart gaan wees.

Kokkedoor: Son & See is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & Vlam, tans op kykNET uitgesaai word.

Buiten Kokkedoor, wat in 2012 die eerste keer voorgesit is, en Kokkedoor: Vuur & Vlam, was daar ook Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.

Volgens Kokkedoor se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, het Kokkedoor: Son & See ‘n paar unieke bestanddele, wat dit van die vorige reekse onderskei.

“Mense moet as ‘n span van twee familielede inskryf met boonop ‘n generasiegaping van minstens 20 jaar tussen die twee spanlede,” sê hy.

“Dit kan byvoorbeeld ‘n ouma en ‘n kleindogter, ‘n ma en seun, skoonsusters of niggies en neefs wees – solank hulle ‘n familieverband het en die jongste spanlid minstens 18 jaar oud is.

“Nog ‘n verskil is dat ons vir Kokkedoor: Son & See net na huiskokke soek en geen deelnemers mag ‘n kwalifikasie as professionele sjef hê nie.

“Die rede hiervoor is dat Kokkedoor: Son & See die kollig wil laat val op die nostalgiese rol wat kosmaak in familieverband speel en die manier waarop dit soos ‘n goue draad tussen die verskillende geslagte loop.”

Herman en Yolani spog nie net albei met sjefkwalifikasies nie, maar het ook beide reeds hul verskyning in talle kook- en leefstylprogramme op die kassie gemaak.

Wat jy alles moet weet om in te skryf:

• Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ‘n e-pos-navraag na navrae@kokkedoor.tv.

• Die sluitingsdatum vir nuwe inskrywings is 30 April.

• Die jongste lid van die span moet minstens 18 jaar oud wees en die geslag- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet minstens 20 jaar wees.

• Die lede móét ‘n familieverwantskap hê, soos ‘n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs.

• Oudisies sal tussen 5 en 9 Mei in Kaapstad gehou word.

• Verfilming van die nuwe reeks geskied van 20 Junie tot 3 Julie in Struisbaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 27 November 2025
    Weslander E-Edition – 27 November 2025

Gift this article