Die laaste steierwerk soos dié is van die Carinus-brug by Velddrif verwyder, met werk aan die brug afgehandel.Foto: Alida Buckle


Die koste verbonde aan die werk wat die afgelope tyd aan die geskiedkundige Carinus-brug by Velddrif gedoen is, beloop bykans R15 miljoen.

Volgens Jandré Bakker, ’n woordvoerder vir die departement van infrastruktuur, is die brug versterk ten einde die ontwerpleeftyd daarvan te verleng totdat dit met ’n doelontwerpte nuwe struktuur vervang kan word.

Johnny da Silva, die voorsitter van die Velddrif-sakekamer, sê die beplande nuwe brug sal vier bane hê, met ’n loopvlak aan die kant van waar hengelaars sal kan visvang of waar mense sal kan fietsry.

Vir eers is die werk aan die brug, wat in die jare vyftig oor die Bergrivier gebou is, afgehandel en word geen verdere werk daaraan voorsien nie.

Bakker sê die versterkingsprojek, met ’n gepaardgaande ry-en-stop-stelsel, het sowat vier en ’n half maande geduur. Die totale projekkoste was R14 818 833,91 (BTW ingesluit).

Bakker benadruk dat die brug aan die einde van sy ontwerpleeftyd is en nie meer geskik is vir die verkeersvolume en soort voertuie wat dit gebruik nie.

“Die brug sal met ’n doelontwerpte struktuur vervang word,” sê Bakker.

Inwoners van Velddrif en Dwarskersbos het hul ontsteltenis oor die plan om die Carinus-brug te vervang, duidelik gemaak by ’n vergadering met twee ministers bykans ’n jaar gelede.

Die sentiment was dat ’n splinternuwe brug nie die probleme met verhoogde vragmotorverkeer deur die dorpe sal oplos nie, maar in teendeel nóg vragmotors na hul dorpe gaan lok.

Tydens dié vergadering is bekendgemaak dat die beoogde begroting vir die nuwe brug sowat R160 miljoen sal wees en dat bouwerk in April vanjaar sou begin.

Die Wes-Kaapse regering het later bekendgemaak dat van dié geld vir noodhulpverlening aan vloedgeteisterde gebiede gebruik is.

Da Silva sê hulle is bly dat die brug versterk is en dat die evaluerings­proses aan die gang is om die brug te vergroot. “Dit gaan ’n ongelooflike aanwins vir die dorp wees.”

Hy besef dit gaan meer vragmotors na die dorp lok, maar meen die vooruitgang van die dorp kan nie agtergehou word nie. Volgens hom is die vragmotorprobleem en die vervanging van die Carinus-brug twee afsonderlike probleme.

“Ons het ’n nuwe brug nodig.”

Hy verseker egter dat die betrokke rolspelers aan die vragmotorprobleem werk en voorsien ’n daadwerklike oplossing vir die probleem teen volgende jaar, maar kan nie nou meer daaroor bekendmaak nie.

Bakker sê voorts die proses om ’n nuwe brug te bou en gepaardgaande tydlyne sal in mediaverklarings bekendgemaak word.

Volgens hom verleng die versterkings wat aan die Carinus-brug gedoen is, die ontwerpleeftyd van die brug ten einde die veiligheid van padgebruikers te verseker.

Dit sal daarom in gebruik bly totdat die nuwe struktuur dit vervang.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025