Wanneer jy jou bankkaart kwytraak, sak jou hart vir ’n oomblik in jou skoene.

Dit is wat met Lené Fourie gebeur het, maar in haar geval het haar bankkaart letterlik die see in gesink.

Fourie het Saterdag 31 Augustus saam met haar man, suster en swaer van Wellington op ’n bus saam met ander blomkykers op ’n Weskustoer vertrek.

Hul eerste stop was die Hopefield-fynbosskou en die blomliefhebbers het die geleentheid gehad om al die mooi veldblomme en die feestelike gees van die skou te ervaar.

Daarna het die bus Langebaan toe vertrek, waar almal Mykonos se sonskyn en blou lug geniet het.

Fourie vertel sy en haar gesin het besluit om iets by Dockside Café & Lounge te gaan eet. Sy het haar bankkaart in haar broeksak gedruk en hul bagasie op die bus gelos.

“Ons het ’n tafel teen die waterfront gekry en die volgende oomblik het my suster opgemerk dat iets in die water val. Dit is lig en plat, so dit is nie ’n foon nie. Met ’n skok het ons besef dat dit my bankkaart was. Skok, ongeloof, verbasing, alles het gelyk deur ons koppe gegaan. Daar lê die bankkaart op die hawe se bodem,” vertel Fourie.

Met die hulp van die kelnerin by die restaurant het sy twee duikers van NSRI genader om te help.

“Die volgende oomblik het die vriendelike NSRI-duikers in hul rooi duikpakke opgedaag. Aangesien die seewater helder was, kon hulle die bankkaart sien. Binne oomblikke was die duiker in die water en het met die bankkaart in sy hand te voorskyn gekom.”

Fourie bedank die duikers en die kelnerin. Daar was kommer of die bankkaart wel sal werk nadat dit met die seewater in kontak was.

“Groot was die opgewondenheid toe die bankkaart wel werk en ons die ete by die restaurant daarmee kon betaal. Ná ’n draairoomys om van al die opwinding te herstel, het ons weer in die bus geklim en kon ons vir almal ons storie vertel – dié een met ’n goeie einde.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025