‘NOS nie alles vir almal’

Dit is in die gespesialiseerde fokus van die Saldanhabaai-nywerheidontwikkelingsone (NOS of IDZ in Engels) waarin sukses lê.


Dit is in die gespesialiseerde fokus van die Saldanhabaai-nywerheidontwikkelingsone (NOS of IDZ in Engels) waarin sukses lê.

Só glo die Saldanhabaai-NOS lisensiëringmaatskappy oor die olie en gas gefokusde spilpunt wat beplan word vir die streek.

Plaaslike sakelui is met ’n netwerksessie van die Weskus Sakekamer verlede Woensdag by Weskus Kollege op hoogte gebring van die nuutste verwikkelinge met die nywerheidsone.

Volgens Hannes Marais, uitvoerende beampte van infrastruktuur en omgewing by die lisensiëringmaatskappy, is daar baie wanpersepsies oor wat die NOS werklik is. “Die NOS is nie ’n alles vir almal nie. Dit is op die vervaardiging en verskaffing van komponente tot die aflandige olie- en gasbedryf gerig,” verduidelik hy.

Marais het gesê nywerhede wat direk baat sal vind by die NOS is dié wat ’n aanvullende rol in die olie- en gassektor kan speel.

Saldanha se NOS is as ’n Spesiale Ekonomiese Sone (SES) deur die regering verklaar. Dié status sal help om ontwikkeling aan te wakker deur burokratiese rompslomp, veral met internasionale sakelui, uit te sny. Die Saldanhabaai NOS is egter steeds in proses om met die plaaslike hawe-owerheid te onderhandel oor ’n huurooreenkoms vir grond.

Marais het gesê die idee is dat Saldanha nie net ’n diensstasie vir die aflandige olie- en gasindustrie word nie, maar “’n dienshub vir aflandige hubs” word.

Hul navorsing toon dat tot 12 oliebore op ’n keer in Saldanha-hawe gediens kan word, wat miljoene vir die ekonomie kan beteken, meen Marais. Hiervoor moet die nodige ruimte binne die hawe-gebied verkry word.

Die NOS se langtermynplanne sluit ook ’n sentrum van uitnemendheid en plaaslike vaardigheidsontwikkeling in.

Marais het gesê hoewel dit moeilike ekonomiese tye is, het verskeie besighede reeds belangstelling in die NOS getoon, met 26 vertroulike ooreenkomste wat reeds onderteken is.

You need to be Logged In to leave a comment.