Nog twee mans het verlede Donderdag (26 September) in die Vredendal-landdroshof op aanklagte van korrupsie met die uitreik van padwaardigheidsertifikate verskyn. Dit bring die aantal Weskus-mans wat tans op dieselfde soort aanklagte teregstaan, op vyf te staan.
Deon Andrew Johnson (50) en Michael Williams (54), twee padwaardigheidinspekteurs by onderskeidelik die Goodwood en We Do-padwaardigheidstoetsstasies, het verlede week vlugtig in die Vredendal-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie en bedrog wat verband hou met die aanvaarding van geld in ruil vir die padwaardigheidsertifisering van motorvoertuie.
Weslander het al verskeie kere berig oor André Dirkse (41) en Rayven Renaldo Karstens (34) van Vredendal-Noord wat teregstaan op agt aanklagte van korrupsie en bedrog met padwaardigheidsertifikate. Dirkse is as beskermingsdiensbesuurder by die Cederberg-munisipaliteit aangestel nadat hy in 2018 as senior verkeersbeampte by die Matzikama-munisipaliteit ontslaan is. Hy is intussen ná ’n tugverhoor geskors.
Die staat voer aan dat Karstens en Dirkse saamgespan het om padwaardigheidsertifikate teen betaling aan kliënte te verskaf.
Uitspraak in hul saak word vandeesweek afgewag.
Daarmee saam is die verhoor van André Wiid, destyds die verkeersuperintendent by die Matzikama-munisipaliteit, ook nog in die Vredenburg-streekhof aan die gang. Hy word ook van bedrog en korrupsie aangekla.
Wiid, voorheen by die provinsiale verkeersafdeling in Vredenburg, word daarvan beskuldig dat hy twee rybewyse onregmatig en teen betaling toegeken het. Sy verhoor gaan Woensdag 30 Oktober voort.
Die polisie se eenheid vir ondersoeke na prioriteitsmisdaad, die Valke, het Dirkse, Rayven en Wiid reeds in 2018 in hegtenis geneem en borgtog is destyds aan al drie toegestaan.
Volgens AO Zinzi Hani het Johnson en Williams die misdrywe na bewering tussen 2018 en 2019 gepleeg.
Johnson en Williams het Donderdag 26 September in die hof verskyn nadat die Valke hulle in hegtenis geneem het. Hulle is op borgtog van R3 000 elk vrygelaat.
Die saak is tot 1 November uitgestel vir finalisering van die klagstaat.