Nog slegte nuus vir motoriste

Die pyn by die pomp gaan in April dalk nóg seerder wees as in Maart. Dis nou byna-byna seker dat petrol meer as R1 per liter duurder gaan word en diesel baie na daaraan.


Die pyn by die pomp gaan in April dalk nóg seerder wees as in Maart. Dis nou byna-byna seker dat petrol meer as R1 per liter duurder gaan word en diesel baie na daaraan.

Dis volgens die syfers net mooi in die middel van die oorsigtydperk wat April se brandstofpryse gaan bepaal. Teen Vrydag was daar ’n onderverhaling (dus potensiële styging) van byna 96c per liter vir 95-oktaan-petrol en 98c per liter vir 93-oktaan. Die onderverhaling op die groothandelprys van diesel wissel van byna 69c per liter (0,05%-swaelinhoud) tot 70c per liter (0,005%).

Benewens dié potensiële stygings, wat bepaal word deur internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers, gaan motoriste reeds 20c per liter meer vir petrol en diesel betaal. Die jaarlikse verhoging in die algemene brandstofheffing en die Padongelukkefonds word in April ingestel en vanjaar beloop dit onderskeidelik 15c en 5c per liter.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê dit beteken belastings en heffings gaan styg tot nagenoeg 38% van die koste per liter 93-oktaan-petrol. “Toe brandstofbelasting voorgestel is as ’n manier om paaie te finansier, het die regering teenstand gebied en aangevoer dis teen armes. Nietemin het die brandstofheffing die afgelope drie jaar met byna 22% gestyg. Gegewe wat by die Zondo-kommissie van ondersoek uitkom, is motoriste geregverdig om te vra waarop hul geld bestee word,” sê die AA. Die algemene brandstofheffing word in die staatskas gestort en word nie spesifiek aan infrastruktuur toegewys nie.

Die Padongelukkefondsheffing word wel opsy gesit vir die uitbetaling van eise ná motorongelukke. Twee weke lê nog voor voordat die finale brandstofpryse op 28 Maart vasgestel word en die onderverhaling kan nog verminder – of selfs vergroot.

Die pryse sal van die eerste Woensdag in April, dus 3 April, af geld. Dit sal die derde agtereenvolgende maand wees dat brandstof duurder word. In Februarie het petrol 7c per liter duurder geword en in Maart 74c – altesaam 81c per liter, of R36,45 vir ’n tenk van 45 liter. In Februarie het diesel met 0,005% swael 2c per liter duurder geword en in Maart 93c – altesaam 95c oftewel R42,75 vir ’n tenk van 45 liter.

Die grootste rede vir die enorme onderverhaling is die skerp styging in internasionale brandstofpryse. Dit dra tussen 72c en 74c per liter tot die onderverhaling op petrol by en 42c tot 43c per liter vir diesel. – Netwerk24

You need to be Logged In to leave a comment.