Die strand naby Tabakbaai. Foto: West Coast Medical Rescue
Die strand naby Tabakbaai. Foto: West Coast Medical Rescue

‘n Groep tieners van Diazville, Saldanha, moes op Saterdag 29 November geskok toekyk hoe die gevaarlike waters van die Atlantiese oseaan hul vriend meesleur.

Christiano van Rheenen (15) se lewelose liggaam is omstreeks 18:20 in die see gekry ná ‘n uitgebreide soektog vroeër die middag begin is.

Wyle Christiano van Rheenen.

Beamptes van die Nasionale Seereddingsintituut (NSRI) het sy liggaam opgemerk tydens ‘n gesamentlike soektog met die Saldanha-seegrenseeneheid en lede van openbare-orde-polisie-eenheid van Vredenburg, die rampbestuur-afdeling en wetstoepassinglede van die Saldanhabaai-munisipaliteit, en nooddienste West Coast Medical Rescue en EMS.

Die sterk wind wat gewaai het, het genoodsaak dat die NSRI die liggaam oorgegee aan ‘n boot van die seegrenseenheidna Peperbaai neem, waar dit omstreeks 19:20 aan die polisie se patologiese eenheid oorgegee is. Die Van Rheenen-gesin, wat teen daardie tyd reeds die hartseer tyding gekry het, het by Peperbaai gewag.

Dit volg kort op die hakke van die tragiese verdrinkings van Danielle van Wyk (25) op Dinsdag 7 Oktober by Tietiesbaai, Paternoster, en Rosco Erasmus (13) op Vrydag 26 September by Rooibaai in Laaiplek, Velddrif.

Volgens Carol Feris van rampbestuur is die nuus ná die uitgebreide soektog dat Van Rheenen verdrink het, met uiterste sorg, sensitiwiteit en respek aan sy vriende en gemeenskapslede by die Saldanha-polisiekantoor oorgedra.

Dit is ‘n hartverskeurende verlies vir die Saldanha-gemeenskap, veral vir sy vriende wat saam met Van Rheenen op die strand was. Maurice Goliath van EMS het hulle vir skok behandel.

Joey Pieters, koördineerder van die Saldanhabaai-veiligheidsinisiatief (SBSI), het vir die teenwoordiges gebid en ‘n boodskap van ondersteuning gegee, terwyl kapt. Joseph Olifant die gevare van strande, en die belangrikheid van ouers en voogde se toesig wanneer kinders dié feesseisoen na strande gaan, benadruk het.

Feris het haar bekommernis uitgespreek oor die moontlike emosionele impak van die tragedie waarmee van dié kinders gaan sukkel. Hulle sou Maandag 1 Desember trauma-berading by die departement van maatskaplike dienste ontvang.

“Ons diepste meegevoel, gedagtes en gebede is met die oorledene se familie, vriende en gemeenskap gedurende hierdie moeilike tyd,” het Feris gesê.

Die Saldanha-polisie ondersoek die voorval maar geen gemene spel word vermoed nie, want Van Rheenen het geen sigbare beserings gehad nie en was slegs in ‘n kortbroek geklee.

Amper-verdrinking naby Langebaan-seiljaklub

Vanoggend (30 November) moes dieselfde nooddienste hulle haas na  ʼn amper-verdrinking naby die Langebaan-seiljagklub.

Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue het gesê die pasiënt was by sy bewussyn met hul aankoms op die toneel.

Volgens Gouws het die boot waarin die pasiënt en sy vriende was, op  ʼn sandbank vasgesit terwyl hulle garnale gepomp het. Hoogwater het egter ingekom en die boot het losgekom.

Die groep het glo agter die boot aangeswem, maar gesukkel om op die boot te klim.

Die seegrenseenheid het die pasiënt van die boot na die oewer van die strandmeer gebring en vir tekens van verkluiming behandel voordat hy na ‘n Vredenburgse hospitaal geneem is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article