Nog baie struikelblokke met hernubare energie

Die probleem met hernubare energie bly die kostes daaraan verbonde. Só het Richard Graham Jones, kliëntebestuurder by Eskom, by ’n Weskus Sakekamer-netwerkgeleentheid gesê. Jones was die gasspreker by die netwerkfunksie wat Donderdag 27 Augustus by The Black Pearl in Mykonos gehou is. Sy praatjie het gegaan oor hoe wind- en sonkrag as onafhanklike kragprodusente (IPP)…


:
Richard Graham Jones, kliëntebestuurder by Eskom, gedurende sy praatjie by die Weskus Sakekamer se netwerkgeleentheid.

Foto: Dawie Boonzaaier

Die probleem met hernubare energie bly die kostes daaraan verbonde.

Só het Richard Graham Jones, kliëntebestuurder by Eskom, by ’n Weskus Sakekamer-netwerkgeleentheid gesê.

Jones was die gasspreker by die netwerkfunksie wat Donderdag 27 Augustus by The Black Pearl in Mykonos gehou is. Sy praatjie het gegaan oor hoe wind- en sonkrag as onafhanklike kragprodusente (IPP) bydra tot die land se kragnetwerk.

“Toe Eskom begin het om hernubare krag bekend te stel het ons gemiddeld van die goedkoopste elektrisiteit in die wêreld gehad, en nou moes ons krag op die rooster teen drie of vier keer die koste sit,” het Jones sommige van die struikelblokke met hernubare energie verduidelik.

Eskom word deur die regering verplig om IPP-krag te koop. “Die vraag is nou hoe ons mense kan aanmoedig om hernubare energie te ondersteun?

“Dit is hoekom ons ’n gewaarborgde prys moes vasstel voordat maatskappye kragprojekte kon aanpak. Ons moes ’n dinamiese meganisme skep wat markkoste, maar ook politiese en sosiale faktore, weerspieël. Ons moet ’n gelyke speelveld vestig.”

Jones het verduidelik dat al word die verskillende faktore ingereken, koop Eskom steeds IPP-krag teen ’n hoër tarief as wat hulle dit self vervaardig.

Eskom het ook al van sy eie hernubare kragprojekte uitgevoer en Jones verduidelik dat een van die voordele van windkrag bo ander kragbronne, is dat dit baie minder tyd neem om windturbines te installeer as om ’n steenkool- of gaskragsentrale op te rig.

“Die probleem weer hiermee is dat daar nie baie vervaardigers is wat windturbines kan vervaardig nie.

“Die grootste probleem wat ons op die oomblik met hernubare energie het, is dat die wind moet waai of die son moet skyn om krag op te wek.”

. Intussen blyk dit dat beurtkrag vir eers iets van die verlede kan wees.

Sondag 30 Augustus is eenheid ses by Eskom se Medupi-kragstasie amptelik in gebruik geneem. Die eenheid, wat vyf jaar laat geopen is, kan beurtkrag vir die res van die jaar uitskakel, het Eskom se topbestuur gesê.

“Ons is taamlik seker dat ons die res van die jaar geen beurtkrag gaan hê nie. Indien iets onvoorsiens gebeur, sal ons hoogstens fase 1-beurtkrag instel en dit sal kortstondig wees,” het Matshela Koko, Eskom se uitvoerende hoof van tegnologie, aan Beeld gesê.

“Die volgende gevaartyd is eers Februarie volgende jaar, wanneer die vraag na elektrisiteit weer kan begin toeneem.”

You need to be Logged In to leave a comment.