Die rugbyspeler Debroucher Snyders (15) is Weslanderen SuperSport se eerste Let’s Play-wenner vir 2019.


Die rugbyspeler Debroucher Snyders (15) speel al van gr. 2 af rugby en dit lyk nie asof hy gaan stop voordat hy in die Groen-en-Goud uitdraf nie.

Debroucher se talent as haker en flank het hom in 2017 Boland-kleure besorg. Hy het destyds in die o.13-span gespeel as deel van die span wat aan die Craven-week deelgeneem het.

Hierna het die Panorama Primêr-leerder dit verlede jaar na die Iqhawe-week gemaak as deel van die Boland se o.15-rugbyspan.

En nou staan die jong speler se kop Nieu-Seeland toe.

Debroucher is vir die plaaslike jong rugbyspan wat na Nieu-Seeland sal reis, gekies. “Ek sien baie uit na die toer en om meer mense te leer ken en ander spelers te ontmoet. Dit is ’n groot eer om vir die toer gekies te word,” sê hy.

Danksy se prestasie op die rugbyveld en ’n goeie kop op sy skouers is Debroucher Weslander en SuperSport se eerste Let’s Play-maandwenner.

Debroucher, wat die wenner vir Februarie is, sal een van verskeie maandwenners wees wat later vanjaar sal meeding om as Weslander en Super Sport se sportster vir 2019 gekroon te word.

Dié jong speler se harde werk begin reeds vrugte afwerp, maar hy het hulp nodig om saam met die span te reis.

Die toer kos R38 000 en Debroucher se afrigter en voormalige onderwyser, Ivan Dwashu, help die jong man woeker om sy kostes te dek.

“Hy is die enigste leerder van Panorama wat die span gehaal het. Die ander spelers is van ander plaaslike skole, en dit wil gewis gedoen wees.

“Ons het al van die geld ingesamel, maar dit is ’n lang pad en ons vra alle rugbyliefhebbers om Debroucher te help om sy droom te bewaarheid,” sê Dwashu.

Om meer uit te vind oor die toer en hoe om ’n bydrae te lewer, kontak Vernon Delport by 071 892 9336.. Om ’n skoolgaande jong sportster vir Weslander en Super Sport se Let’s Play-kompetisie te benoem, stuur ’n e-pos aan Keananlee.harmse@media24.com of skakel 022 713 1251.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 18 December 2025
    Weslander E-Edition – 18 December 2025

Gift this article