Wyle Leo Williams (9), wat in 2020 noodlottig deur ’n dwaalkoeël getref is.


Doodse stilte. ’n Mens kon ’n speld hoor val.

Die gemeenskap van Laingville in St. Helenabaai was sprakeloos toe hulle verlede Woensdagaand (2 Maart) op ’n gemeenskapsvergadering hoor die ondersoek na polisiebeamptes wat vermoedelik ’n plaaslike kind doodgeskiet het, is onopgelos afgesluit.

Leo Williams (9) se dood was ’n baie opspraakwekkende en omstrede voorval wat vir maande in die mediakollig was.

Weslander het destyds berig oor die gewelddadige onluste wat in Julie 2020 in St. Helenabaai opgevlam het.

In hierdie tyd, terwyl openbare-orde-polisiëring die vrede in Laingville probeer bewaar het, is die jong Leo deur ’n dwaalkoeël getref terwyl hy in sy oom se huis gesit en televisie kyk het.

Die koeël, wat vermoedelik deur ’n polisiebeampte buite in die straat afgevuur is, is dwarsdeur die sinkstruktuur van die huis en het Leo in die kop getref.

Leo is met ’n ernstige kopbesering in die hospitaal opgeneem.

Hy is lank deur lewensondersteunende masjiene aan die lewe gehou. Hy is later breindood verklaar en sowat drie weke later het die familie besluit om die masjiene te laat afskakel.

Die saak is deur die Onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek en die gemeenskap van Laingville, wat geregtigheid vir Leo eis, het die afgelope twee jaar toenemend ontevrede geraak oor die feit dat hulle baie min terugvoering oor vordering met die ondersoek kry.

Thyrone Williams (geen familiever­band met Leo), ’n bekende plaaslike gemeenskaps­aktivis wat ook sedert November verlede jaar sy mense as raadslid by die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) verteenwoordig, het vandeesweek aan Weslander gesê hy moes verlede week die nuus aan die gemeenskap breek dat geen polisielede of enigiemand anders vir Leo se dood vervolg gaan word nie.

Volgens Thyrone het die departement van openbare vervolging die finale ondersoekverslag aan die Vredenburg-landdroshof gestuur, waar besluit is om nie met vervolging voort te gaan nie, aangesien daar “volgens hulle nie voldoende bewyse teen enigiemand” is nie, sê hy.

“Dít volg nadat dit baie belowend gelyk het dat inhegtenisnemings sal plaasvind. Die mense is erg teleurgesteld.” Vervolg op bl.2

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025