Skape word opgesny reg om ingeskep te word. Foto: Letitia van Zyl-Schultz.
Skape word opgesny reg om ingeskep te word. Foto: Letitia van Zyl-Schultz.

Die NG Kerk Laaiplek-gemeente op Velddrif het hul 60ste bestaansjaar op feestelike wyse gevier met ’n langtafel-feesmaal vir 500 gaste, alles met een doel: om vir die Here dankie te sê vir sy oorvloedige genade.

Skape word opgesny reg om ingeskep te word. Foto: Letitia van Zyl-Schultz.
Skape word opgesny reg om ingeskep te word. Foto: Elverno Karolus.

Leraar Charl van Rensburg vertel aan Weslander dat die idee vir die langtafel op Saterdag 11 Oktober uit ’n hart van dankbaarheid gebore is. “Ons wou 500 mense kos gee, en ons het,” sê hy met trots.

NG Kerk Laaiplek se feesmaal saam met 500 gaste. Foto: Letitia van Zyl-Schultz
NG Kerk Laaiplek se feesmaal saam met 500 gaste. Foto: Elverno Karolus

“Die ete was ’n fees van dankbaarheid, nie ’n fondsinsameling nie. Lidmate het R20 betaal om hul plek te bespreek, en die res was ’n geskenk van harte.”

Langtafels is gedek en deel van die straat is toegemaak vir die geleentheid. Foto: Letitia van Zyl-Schultz
Langtafels is gedek en deel van die straat is toegemaak vir die geleentheid. Foto: Elverno Karolus

Die viering was ’n ware gemeenskapsprojek. Gemeentelede het vriende en familie genooi, en talle plaaslike hande het gehelp om die aand onvergeetlik te maak.

“Lidmate het alles geskenk, van vleis en bykosse tot tafeldoeke en dekor. Daar was braaiers wat elf skape op die Argentynse manier aan die spit gedraai het, dames wat in die kombuis bykosse en nagereg voorberei het, en ander wat gesorg het dat alles feestelik lyk,” vertel Van Rensburg.

Skape is op die Argentynse manier aan die spit gebraai. Foto: Letitia van Zyl-Schultz
Skape is op die Argentynse manier aan die spit gebraai. Foto: Elverno Karolus

Die aand het ook die bekendstelling van die gemeente se resepteboek, Kaalvoet Koskuns – Met liefde uit die gemeente, ingesluit. Die boek is ’n versameling van geliefde resepte van gemeentelede, ’n huldeblyk aan gewone mense wat van alledaagse bestanddele ’n liefdestaal maak.

NG Kerk Laaiplek se resepteboek. Foto: Letitia van Zyl-Schultz
NG Kerk Laaiplek se resepteboek. Foto: Elverno Karolus


Die resepteboek is beskikbaar op die kerk se nuwe webtuiste, www.ngklaaiplek.co.za, wat onlangs bekendgestel is.

Van Rensburg beskryf die langtafel as ’n eerste vir die gemeente.

“Om 500 mense in die straat te bedien, was groot, maar dit het perfek verloop. Ons het selfs genoeg oorgehad om Maandag vir Huis Wittekruin se inwoners ’n feestelike ete te gaan aanbied.”

Hy beklemtoon dat geen individu uitgelig word vir die sukses nie.

“Die Kerkraad het alles deur bepaalde leiers gereël, maar dit gaan nie oor mense nie, dit gaan oor die Here. Almal het saam gewerk en gegee vir Hom.”

Dames het gesorg vir bykosse. Foto: Letitia van Zyl-Schultz
Dames het gesorg vir bykosse. Foto: Elverno Karolus

Vir die NG Kerk Laaiplek was hierdie feesmaal meer as net ’n viering van 60 jaar, dit was ’n lewende getuienis van geloof, gemeenskap en dankbaarheid.

“Dat Jesus ons bindende bron is, is die boodskap wat ons huis toe neem,” sê Van Rensburg.

“Om deel te wees van ’n geloofsgemeenskap bou jou op, en bou die Koninkryk van God.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025