Netbalspelers toer in Namibië

Hoërskool Porterville se netbalspelers het die afgelope skoolvakansie deur Namibië getoer.


Hoërskool Porterville se netbalspelers het die afgelope skoolvakansie deur Namibië getoer.

Die skool se top-10 en agt mees belowende netbalspelers het van 17 tot 25 Maart aan die Walvisbaai-woestynfees deelgeneem waar hokkie-, rugby- en netbalspanne meegeding het.

“Hulle is ’n korterige spannetjie, maar het gewis die skool se naam hoog gehou. Die toeskouers het daarvan gehou om te kyk wanneer Porterville speel omdat die Bulle volgens hulle ’n mooi ‘skoon’ wedstryd speel. Die Bulle het sewe wedstryde gespeel waarvan hulle ses gewen en net een met drie doele verloor het,” vertel Nanette Botha van die skool.

Antoinette Burger en Anke van der Merwe is onderskeidelik as die kaptein en onderkaptein vir die toer gekies. Die hulpdoel, Miche Farao, het uitstekend gevaar en is as Hoërskool Porterville se speler van die fees aangewys.

Die agt belowende spelers wat saamgetoer het, het aan oefensessies deelgeneem en het baie verbeter. Die toergroep het nie net hard gewerk nie, maar ook ’n bietjie pret gehad toe hulle met vierwielmotorfietse en sandplanke (sandboards) gery het.

Die spelers het die toer afgesluit met ’n besoek aan die bekende Duin 7.

Laaste maar nie die minste nie wil die Top-10- en Top-8-leerders hul afrigters, Marietjie Potgieter, André de Jager en Ester de Jager, wat die toer moontlik gemaak het, bedank.

“ ’n Groot dankie ook aan Oom Gregory Paulsen wat die bussie bestuur het en ons Hemelse Vader wat elke oomblik saam met hierdie toergroep was.”

HS Porterville het net teen Elnatan van Stampriet verloor en die res van hul wedstryde gewen:PRO-ED van Swakopmund: 35-20Windhoek HS: 65-7Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP): 34-20Walvisbaai Privaatskool: 37-29Elnatan van Stampriet: 33-36Alberton van Johannesburg: 48-14 Walvisbaai Privaatskool 2: 58-16

You need to be Logged In to leave a comment.