Tiaan “Jam” van Wyk duik oor vir sy drie.Foto: Terrance Ackers


Die Saldanha Tigers het Saterdag in die Streekuitdaagwedstryd van die Boland-rugby-unie Coronations in Kalbaskraal besoek. Coronations het egter die Tigers in ’n klipharde en taai wedstryd met 15 punte teenoor 12 geklop.

Die rustydtelling was 10-7 in die guns van die tuisspan. Coronations RVK is tans tweede op die puntelys met Saldanha Tigers in die sewende plek.

Die wedstryd is in gietende reën gespeel en dit het hardlooprugby verhinder. Die stryd was redelik taai en die manne het mekaar behoorlik deurgekyk. Die tuisspan het eerste bloed geruik toe hul slot Jan Lewis met ’n maklike strafskop geslaag het (telling 3-0). Saldanha Tigers se Devril “The Beast” Julius en John Ross “Stormram” September het met goeie stormlope groot stukke veld vir die besoekers gewen.

Die skeidsregter het redelik verhinder dat die besoekers nie aan die gang kon kom nie en hulle is gereeld gestraf. In die 24ste minuut het die tuisspan se Abraham Haas, agtsteman, oorgeduik vir ’n drie wat deur Lewis verdoel is (telling 10-0). Saldanha Tigers het nie gaan lê nie en die een aanval ná die ander uitgevoer en die tuisspan moes hul keer ken. Saldanha Tigers se linkervleuel, Japhton “Speedy” Jacobs, het met sy spoed en kronkellopies sy teenstaanders in die lug laat gryp.

Die lynstane van die besoekers was solied en hier was Revaldo “Bakkies” Barends uitstekend. In die 33ste minuut het die besoekers se Tiaan “Jam” van Wyk met ’n kraglopie vorendag gekom en sy teenstanders grond laat eet voordat hy oorgegaan het vir sy span se eerste punte. Die losskakel, Marko Abrahams, het verdoel (telling 10-7 in die guns van die tuisspan). Dit was ook die rustydtelling.

Daar is kliphard gepraat in die kleedkamer en die besoekers het met nuwe ywer op die veld verskyn. Die jong spelers van Saldanha Tigers het baie deursettingsvermoë getoon en gewys dat hulle nie deur hul meer ervare teenstanders oordonder sal word nie. Die jeugdige vleuel Ryno “Sluiper” Williams het met vaart langs die kantlyn genael en oorgeduik vir ’n onverdoelde drie en sodoende die besoekers die eerste keer in die wedstryd laat voorloop (telling 12-10 vir Saldanha Tigers).

Die skrums was redelik gelykop en ná die besering van die besoekers se JR September is gewig ingeboet en moes die besoekers hul staan ken. In die 21ste minuut het Dilton Meni met ’n uitsteken­de skoppie vorendag gekom, wat op die vleuel Sidwell Johnson se onverdoelde drie uitgeloop en die telling op 15-12 in die guns van die tuisspan gebring het. Hierdie was uiteindelik die wendrie.

Coronations se speler van die wedstryd was Dilton Meni. Saldanha Tigers se uitblinkers was Tiaan van Wyk (senter), Devril Julius (agtsteman), Revaldo Barends (reserweslot), Japhton Jacobs (vleuel) en Ryno Williams.

Coronations se B-span het 17-0 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025