“If music be the food of love, play on.”
Hierdie aanhaling kom uit Shakespeare se 12th Knight, wat in 1602 geskryf is. Dit beskryf Orsino se frustrasie met die liefde en sy hoop dat musiek sy afleiding kan wees.
Net so, bied Carina Brown, stigter van die West Coast Music Academy en West Coast Youth Orchestra, hoop aan die kinders van die Weskus met haar musiek.
Die 58-jarige vrou met haar rooi-groen kleurige hare, is ’n bol energie. Terwyl jy met haar praat sien jy hoe die “wielietjies” in haar kop draai en sy alweer haar volgende projek beplan.
Haar passie vir musiek, en veral die jeug van die Weskus, is tasbaar.
Afkomstig van wat sy noem, “Sodom en Gomorra” ook bekend as Johannesburg, vertel Carina dat haar lewenspad nie altyd gelyk was nie.
“My pa is oorlede toe ek maar standerd 4 was. My ma was skielik ’n enkelouer van vier kinders. Drie jaar later het ons na Humansdorp in die Oos-Kaap verhuis.”
Alhoewel almal in haar familie musikaal aangelê is, is Carina die eerste een wat besluit het om dit haar beroep te maak. Sy het haar BMus aan die Universiteit van Port Elizabeth, nou bekend as die Nelson Mandela Universiteit, verwerf.
Dis ook hier waar sy haar man, Henry, ontmoet het. Hulle is vanjaar 36 jaar getroud.
Hulle woon reeds 25 jaar in Hopefield, nadat Henry destyds ’n werksaanbod op die dorp aanvaar het en sal dit (nou) vir niks in die wêreld verruil nie.
“Toe ons ’n warm dag in Februarie die eerste keer die dorp binne ry, was ek geskok. Maar ek het dit nie gewys nie. Nou het ons hier wortelgeskiet, ons kinders hier grootgemaak.”
Carina sê sy het besef, geluk hang nie af van waar jy woon nie maar dit kom van binne. Wanneer jy dit besef, kan jy enige plek woon en gelukkig wees.”
Haar man is ook haar grootste ondersteuner en sit gereeld hand by deur musiekinstrumente te herstel.
Ná ’n rukkie van musiekonderwyser wees het Carina privaat klasse begin aanbied. Ná groot belangstelling het die klasse uitgebrei na ander dorpe in die Weskus.
En daaruit is die West Coast Music Academy gebore. Vandag is daar 20 voltydse personeellede en honderde jong musikante wat of klasse loop of deur middel van die uitreikprogramme bereik word.
“Een van ons uitreikprogramme is om na skole te gaan en leerders musiek te leer,” vertel Carina.
Sekerlik een van haar mees trotse oomblikke was toe ’n orkes met 120 lede in Julie in Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en Wene gaan toer het.
Benewens musiek, is Carina passievol oor jeugontwikkeling en het sy reeds talle jongmense onder haar vlerk geneem. Sy help hulle om lewensvaardighede aan te leer en help met beurse om te gaan studeer.
Indien moontlik, bied sy hulle ook ’n werk aan by die akademie waar hulle kan terugploeg in die gemeenskap.
“Soms het die jeug net iemand nodig om in hulle te glo. Die bloed bruis in my are wanneer ek voor die orkes staan en weet ek het ’n persoonlike verhouding met elke kind en hulle maak op my staat.”
Carina het groot planne om musiek meer bereikbaar te maak in die Weskus.
Sy voel ook sterk dat musiek as vak teruggebring word in skole.
’n Tekort aan finansies is ’n uitdaging vir die akademie, maar dinge werk tog altyd uit vir die beste.
Carina sê sy glo dit is die Here se seën oor haar lewe.
In 2015 het Carina ’n toekenning van die Wes-Kaapse minister van kultuursake ontvang vir haar prestasies. Sy was ook twee keer daarna, in 2016 en 2017, weer genomineer en op die kortlys vir soortgelyke kultuurtoekennings. Einde 2017 het die West Coast Youth Orchestra ook ’n Impumelelo Toekenning ontvang vir musiekontwikkeling.
Carina sê dit is vir haar ’n voorreg om musiek te kan gebruik om andere aan te raak.