Vier mans is die afgelope naweek in die Weskus vermoor in ’n bloedspoor wat tot in Atlantis strek.
Donovan Syster (41) is Sondagoggend vroeg in Tweedestraat, Louwville, in die kop geskiet. Die polisie is omstreeks 06:00 van die skietery verwittig. Met hul aankoms op die toneel het hulle Syster se lewelose liggaam op die grond gekry met sy vuurwapen langs hom. Die motief vir die moord is nog onbekend.
Chad Bernado (26), oorspronklik van Vredenburg, is Vrydagaand 20 September net ná 21:00 in Atlantis doodgeskiet toe hy glo lugtyd by ’n huiswinkel gaan koop het, berig Murphy Roberts van Weslander se susterskoerant, Weskus Nuus.
Yonela Mthiya (27) is Sondag 22 September in die Vredenburg- provinsiale hospitaal aan veelvuldige beserings dood. Zwelibanzi Tshali (29) en Abonga Nomachiwa (29) het hom na bewering Sondagoggend omstreeks 03:00 aangerand.
Hulle het Maandag in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Monde Phiko (42) van Riebeek-Wes is Sondagaand in die hospitaal dood. Hy het beswyk aan wonde wat hy in ’n graafaanval opgedoen het. Hy het glo probeer keer dat Sibusiso Juwele (34) na bewering sy meisie aanrand.
Omstanders het gesê Juwele het Phiko herhaaldelik met ’n graaf geslaan. Juwele het Woensdag (25 September) in die Riebeek-Wes-landdroshof verskyn.