Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Het Jan Marais Nationale Fonds doen ’n beroep op die publiek om kandidate te benoem vir die gesogte Neville Alexander-prestigetoekennings. Hierdie toekennings, ter waarde van R30 000 elk, word vanjaar met besondere glans aangebied ter viering van die ATM se 50-jarige bestaan en die 100ste herdenking van Afrikaans as amptelike taal.
Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, is die doel van die eerbewyse om “die onbesonge helde van Afrikaans en veeltaligheid te vereer, en terselfdertyd diverse taalprojekte aan te moedig.” Neville Alexander (1936–2012), na wie die toekennings vernoem is, was ’n bekroonde taalkundige, anti-apartheid-aktivis en ’n uitgesproke voorstander van veeltaligheid en moedertaalonderrig.
“Hierdie eerbewyse word toegeken aan individue of organisasies wat hulle inspan om Afrikaans toeganklik vir almal te maak, wat die taal as medium gebruik om maatskaplike samehorigheid en nasiebou te bevorder, of lewenslank tot die bevordering van Afrikaans bygedra het,” verduidelik Jonas. “Met die ATM wat vanjaar sy goue jubileum vier, is dit besonders gepas dat ons daardie leiers vereer wat hulself beywer vir die waardering en voortbestaan van Afrikaans as Afrikataal.”
Die drie wenners sal op 20 September tydens die sesde Neville Alexander-gedenklesing, wat gehou sal word by die ATM in Paarl, bekend gemaak word. Bobaas-bydraers ontvang elk ’n sertifikaat en prysgeld van R30 000, geborg deur Het Jan Marais Nationale Fonds, bestem vir taalprojekte van hul keuse.
Vorige wenners van die eerbewys sluit onder meer Mogamat Alexander, die DAK Netwerk, prof. Michael le Cordeur, Gaireyah Fredericks, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Suzie Matlhola, Ernest Loth, die Fakulteit Opvoedkunde van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde in. Die gedenklesing het reeds deur uitgesoekte kenners soos professore Hein Willemse, Elvis Saal, Johan Lenake, Michael le Cordeur en Ernst Kotzé gelei.
Lede van die publiek kan kandidate benoem deur die elektroniese vorm op www.taalmuseum.co.za/wat-gebeur in te vul of ‘Alexander’ via WhatsApp na 076 017 6026 te stuur. Benoemings moet die ATM voor 17:00 op Vrydag 15 Augustus bereik – óf per WhatsApp, e-pos (admin@taalmuseum.co.za), of fisiek afgelewer by die Historium, Pastorielaan 11, Paarl.
Vir verdere navrae bel 021 863 0543 of epos kommunikasie@taalmuseum.co.za.
Gebruik hierdie unieke geleentheid om die lig te laat val op die verborge voorvegters van Afrikaans en meertaligheid!


