’n Vermeende kinderverkragter wat sedert 2014 deur die Bloemfonteinse polisie gesoek word, is verlede week in Vredenburg in hegtenis geneem. Die man het reeds ’n string vorige verwante en onverwante veroordelings.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is die 49-jarige man verlede Donderdag by sy werkplek, waar hy die bestuurder was, in hegtenis geneem. Die beskuldigde het die afgelope agt jaar by verskeie drinkplekke en sportkroeë in die Weskus gewerk.
Hy is in hegtenis geneem nadat daar vasgestel is dat hy deur die polisie in Bloemfontein gesoek word weens drie aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en ontbloting wat in 2014 teen hom aanhangig gemaak is. Die aanklagte spruit uit voorvalle in November en Desember 2014 waartydens ’n 16-jarige seun seksueel aangerand is.
Die beskuldigde het Donderdagnag in die polisieselle op Vredenburg geslaap waarna hy Vrydag na die Parkweg-polisiekantoor in Bloemfontein geneem is. Hy het Maandagoggend vlugtig voor landdros Estelle de Lange in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.
Die beskuldigde het verskeie vorige veroordelings: korrektiewe toesig vir ’n bedrogsaak in die Paarl (1994); tronkstraf vir diefstal en bedrog in die Paarl (1995); tronkstraf vir ’n seksuele misdryf in Franschhoek (1996); skuldigbevinding aan diefstal in Bellville (2001); skuldigbevinding aan diefstal van ’n motorvoertuig in Linden, Johannesburg (2001); en ’n opgeskorte vonnis vir diefstal in Uitenhage (2010).
Die staatsaanklaer in die Bloemfontein-hof is Annette Loots. Die saak is tot Maandag 15 Mei uitgestel sodat borgtoginligting ingesamel kan word. Die beskuldigde word tot dan aangehou.
Die verdagte se identiteit is aan Weslander bekend, maar word, soos wetlik vereis in seksuele sake, weerhou totdat hy in die hof gepleit het.