Om as nuwe voorsitter van Saldanha Animal Care (SAC) te dien, is vir Anja Roworth ‘n groot eer. Dié Saldanha-inwoner het haar verbintenis met SAC begin deur een keer per week as ‘n vrywilliger te dien en met die honde te gaan stap, hulle te help bad en sommer net liefde en aandag te skenk.
Dit het daartoe gelei dat sy meer by SAC se daaglikse bedrywighede betrokke geraak en op die komitee begin dien het. Roworth sien daarna uit om die nuwe uitdaging saam met ‘n wonderlike span aan te pak.
Sy neem by Zanette Kellerman as voorsitter oor, wat pas afgetree het. “Terwyl ek as voorsitter aftree, wil ek ‘n oomblik neem om my diepste dankbaarheid uit te spreek vir almal se ondersteuning van ons skuiling. Oor die jare het ons talle diere liefdevolle huise sien vind, en dit is alles te danke aan almal se vrygewigheid – hetsy deur skenkings, vrywilligerswerk of bloot die verspreiding van die woord.
“Jul bydraes het ‘n werklike verskil in die lewens van diere in ons gemeenskap gemaak en ek is vol vertroue dat die skuiling sy noodsaaklike werk sal voortsit. Ek wens almal alles van die beste toe in die toekoms en moedig almal aan om voort te gaan om die belangrike missie van dierewelsyn te ondersteun.
“Ek wens Anja en haar span alles van die beste toe. Hou asseblief aan om hierdie organisasie te ondersteun; dit was bloed, sweet en trane om die organisasie aan die gang te hou,” sê Kellerman.
Roworth het van kleins af ‘n liefde vir diere gehad en sê haar visie is om voort te bou op die grondslag wat Kellerman reeds gelê het. Sy wil SAC se impak op die gemeenskap bevorder deur ‘n groter bewustheid van dierewelsyn te skep.
“Ook beter samewerking met ander dierewelsynsorganisasies en plaaslike owerhede, om geld in te samel vir volhoubare programme soos sterilisasiedae, opvoeding, veral onder ons jeug, en noodgevalversorging. Ek wil graag sien dat SAC ‘n sterker teenwoordigheid kry – nie net in Saldanha nie, maar ook in omliggende gebiede waar hulp broodnodig is.”
Wanneer dit by uitdagings kom, sê Roworth, lê die grootste uitdaging by onkunde en beperkte hulpbronne.
“Baie mense verstaan nie altyd die verantwoordelikheid wat met troeteldiere gepaard gaan nie. Ek wil inligting meer vrylik beskikbaar maak en bewusmakingsveldtogte aanmoedig – veral in skole. Dan is daar natuurlik die voortdurende tekort aan finansiële en logistieke ondersteuning ook.”
Roworth beplan om ‘n gestruktureerde geldinsamelingstrategie te ontwikkel en meer vrywilligers te werf. Sy sê omdat diere nie ‘n stem het nie, moet mense hul stem wees.
“As elke lid van die gemeenskap net ‘n klein bydrae lewer – soos om een uur per week by SAC te help of ‘n dier aanneem eerder as om een te koop, of net een dier se sterilisasie finansier – kan dit ‘n groot verskil maak. SAC is hier om te help, maar ons kan dit nie alleen doen nie. Ons het die gemeenskap en plaaslike sakelui se ondersteuning nodig.”