Harde spel, ’n paar harde stampe en goeie gees is die naweek ervaar onder Weskussers wat hul skole se interskole bygewoon het.
Atlete en leerders van Hoërskool Vredenburg is na Kraaifontein in die noordelike voorstede om teen Hoërskool Monument Park mee te ding.
Hokkie, sokker, netbal en rugby was aan die orde van die dag. Die Weskussers se eerste rugbyspan het die tuisspan 10 – 6 geklop.
Die meisies o. 19A-hokkiespan het ook geseëvier en het hul wedstryd 5 – 1 gewen. Die seuns eerste hokkiespan het gelykop teen hul opponente geëindig. Danksy die skaakspan, landloopspan en die gholfspan het die Burgies ook skoonskip gemaak in dié onderskeie sportkodes.
In Hopefield is Hoërskool Lutzville verwelkom. Hopefield se eerste spanne het gewen: rugby 34 – 10, meisies hokkie het 0 – 1 teen ’n Mpumalanga-span gewen, netbal het 30 – 13 gewen. Die seuns eerste hokkiespan het 1 – 2 vasgeval teen Curro Langebaan, maar die o. 16A-rugbyspan het geskitter met ’n 0 – 48 wen teen Lutzville en die o. 15-rugbyspan het die besoekers 53 – 0 geklop. Op Moorreesburg het Hoërskool Dirkie Uys op hul tuisvelde met Jan van Riebeeck uit die Kaap kragte gemeet. Die tuisskool se eerste spanne het die hokkie, gholf, rugby en vasvrae gewen, terwyl die skaakspan, eerste netbalspan en debatspan vasgeval het. Dirkie Uys het ook die algehele interskool-byeenkoms gewen. Hoërskool Piketberg en Hoërskool Porterville het hul jaarlikse kragmeting op Piketberg gehad. Hoewel Piketberg se eerste netbal- en rugbyspanne vasgeval het, het hulle die algehele interskole-beker gewen.