Met sy eenjaar-viering het Casvier Heritage Art Gallery and Theatre sy eerste opwip-museum in St. Helenabaai op Vrydag 30 Mei geopen – dít alles met die bekende April Snyders, ‘n boorling van die plaas Tierklip naby Stompneusbaai, as inspirasie.
Snyders is in 2003 ná ‘n kort siekte oorlede. Volgens Elton Lesch, die eienaar van die gallery en teater wat ‘n liefde vir die stories van die mense van die omgewing het, het hy besluit ‘n museum is die perfekte idee om hierdie stories aan die lewe te hou – lank nadat dié mense nie meer hier is nie.
“Ons kultuur is besig om dood te gaan – ons stories ook. Ek het besluit ons eerste storie sal oor oom April Snyders wees. Hy was ‘n legendariese figuur in die omgewing en ook in die groter Weskus.”
Lesch sê Snyders was betrokke by die stigting van die eerste en oudste rugbyklub in die dorp, ‘n gerespekteerde man in die gemeenskap en ‘n “storiekus” in eie reg met sy kennis van geskiedenis. ‘n Stuk grond in Steenberg’s Cove is ook na hom vernoem.
Lesch verduidelik die opwip-museum se uitstalling sal gereeld verander en sodoende verskeie stories deel. “Wanneer mense die museum besoek, wil ek hê hulle moet trots wees op ons komvandaan. Ons moet erkenning gee aan ons plaaslike mense vir alles wat hulle gedoen het. Hierdie mense het waardes tot ons gemeenskap gevoeg.”
Saam met dr. Hendrik Snyders, ‘n historikus, deel die museum ook Snyders se geskiedenis en die voetspore wat hy agtergelaat het.
Gaste het by die opening ook na gedigte geluister en gesellig verkeer.
Lesch bedank Wespunt Drukker in St. Helenabaai vir die borgskap van die gedrukte foto’s asook almal wat tot die sukses van die aand bygedra het.
• Kontak Lesch by 076 859 2167 om ‘n bydrae tot die gemeenskapsprojek te gee.





