Die trotse span van die Weskus-radiobeheerspan wat die afgelope twee maande ononderbroke gewerk het aan miniatuur winkelvensters, paaie, brûe en veel meer is, van links, Marcel Visser (8), Caleb Hoffend (13), Theo van den Heever (klubpresident), Sakkie Beukelman, John Bowles, Rowan Dunbar en Riaan Meyer (klub-ondervoorsitter).Foto’s: Alida Buckle


Die Weskus-radiobeheerklub het oorgeloop van trots die afgelope naweek, met die suksesvolle aanbieding van die Nasionale Radiobeheerkompetisie vir drifting (vrylopende)-motors.

Sowat 40 deelnemers van oral in die land het vir die amptelike kompetisie op Saterdag 7 September op Langebaan toegesak om hul vernuf te kom wys op die draaie van die spesiaal geboude baan in die klubsaal. Die baan moes aan internasionale standaarde voldoen sodat die tye en rekords wat opgestel is, kan kwalifiseer. Die uitdunrondes is Vrydag gehou.

Volgens Rowan Dunbar, ’n radiobeheer-entoesias van Langebaan wat spesialiseer in vaartuie, is dit ’n eerste in dié sport dat die nasionale kompetisie boonop vergesel word van ’n reuse-uitstalling van alle soorte radiobeheerde voertuie en vaartuie.

Benewens die peperduur, gepasmaakte en aangepaste renmotors was daar ook onder meer visserskuite, seilbote, ’n branderplankryer, helikopters, vliegtuie, konstruksievoertuie, bakkies – duisende rande se radiobeheerde modelle onder een dak.

Volgens Dunbar is sommige van die modelle meer as R40 000 elk werd.

Die Weskusspan het twee maande lank gebou aan die model-winkelvensters, paaie en brûe om die uitstalling voorwaar uitsonderlik te maak.

. Skakel Dunbar by 079 545 1695 om by die klub aan te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.