Die Vredenburg- provinsiale hospitaal. Foto: Noluvu Ludidi

Die kwessie van diens en die behandeling van pasiënte by die Vredenburg- provinsiale hospitaal raak almal, meen Ben Strydom, ‘n inwoner van Vredenburg.

Strydom se vrou is die afgelope paar jaar in en uit die hospitaal weens ‘n maagseer. Ben meen die kwessie van die behandeling en diensverskaffing by dié hospitaal raak talle mense.

Hy het dit self gesien en ervaar. “Ek kla nie uit die oogpunt daarvan om as spesiaal beskou te word of vinniger hulp te kry nie. Dit is vir my so hartseer wanneer jy by die hospitaal kom en sien hoe dit daar gaan; hoe pasiënte daar lê en wag vir ure, of net nie die regte behandeling kry nie.”

Volgens Strydom is sy vrou al telkemale tussen die New Somerset-hospitaal en die Vredenburg- provinsiale hospitaal rondgeskuif net om op die ou einde ontslaan te word – in dieselfde toestand en selfs swakker. “Sy is elke keer terug hospitaal toe, maar niks word uitgesorteer nie. Hulle voel vere. Elke keer wanneer jy bel, tel niemand die foon op nie. Die simptoom word behandel en nie die eintlike kwel nie.”

Strydom meen oor die jare is sy vrou pille voorgeskryf wat nie werk nie, sy kan nie kos binnehou nie, kan skaars water drink of op haar eie loop.

“Een ding is vir seker – die Vredenburg- provinsiale hospitaal se noodkamer is gewis nie opgewasse om werklike noodgevalle te hanteer nie – veral nie met ‘n klompie studentedokters nie. Dis presies waar die probleem lê. Stuur hulle nog pasiënte deur na die New Somerset-hospitaal, is daar nie beddens nie. Selfs dáár is studentedokters wat pasiënte net vinnig hanteer en terugstuur nadat die chirurge hulle geopereer het. Dit word ‘n probleem wat net heen en weer geskuif word.”

Strydom meen baie mense verloor só geliefdes, maar dit kon moontlik voorkom gewees het.

Leensie Lötter, ‘n woordvoeder vir die provinsiale departement van gesondheid, sê die hospitaal se kliniese bestuurder het bevestig dat sy op Maandag 13 Oktober met Strydom oor sy vrou se behandeling vergader het. Sy het daarop gewys dat mevrou Strydom sowat ‘n maand gelede abdominale chirurgie in die New Somerset-hospitaal ondergaan het. Dié hospitaal is die Vredenburg- provinsiale hospitaal se verwysingsfasiliteit vir chirurgiese prosedures.

Volgens Lötter was Strydom telefonies in kontak met die kliniese bestuurder nadat sy vrou se toestand verswak het.

Volgens die kliniese bestuurder het sy voorgestel mev. Strydom word weer in Vredenburg se opgeneem. “Haar toestand het egter verbeter en sy het voortgegaan om tuis aan te sterk. Mnr. Strydom het op die vergadering met die kliniese bestuurder bevestig dat hy begrip het vir die feit dat die Vredenburg-hospitaal slegs ‘n distrikshospitaal is en nie oor chirurgiese dienste beskik nie. Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor die Vredenburg- provinsiale hospitaal vir personeel se pogings om sy vrou se toestand te midde van beperkte hulpbronne te bestuur.”

Strydom meen egter dat dit nie die geval is nie en dat sy vrou se toestand glad nie verbeter het nie. “Al kom hulle met min hulpbronne oor die weg, is dit glad nie die manier hoe pasiënte hanteer moet word nie.”

Tans is Strydom se vrou weer van Vredenburg na New Somerset oorgeplaas, omdat sy op Maandag 20 Oktober omgeval het. Strydom bekommer hom oor sy vrou se welstand – veral omdat hy al vantevore sy vrou in New Somerset nie eens kon opspoor nie.

Om hier in Vredenburg te wees en om te sien na alles by die huis en om ‘n lewe te maak terwyl sy vrou ver van hom af is, het Strydom op breekpunt.

Lötter voeg by dat die hospitaalbestuur die frustrasie van pasiënte en hul geliefdes verstaan.

Lede van die publiek word aangemoedig om enige klagtes deur die amptelike kanale te deel. Klagtes kan aangemeld word by 0860 142 142, per e-pos na service@westerncape.gov.za, die klagtes- en komplimenteboks of by die bestuurder aan diens vir onmiddellike terugvoer.

“Die hospitaalbestuur sal voortgaan om mnr. Strydom van sy vrou se behandeling op hoogte te hou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 November 2025
    Weslander E-Edition – 13 November 2025