Munisipaliteite diep in die knyp

Twee munisipaliteite wat onder die Weskus-distriksmunisipaliteit val, tesame met nog ses ander in die Wes-Kaap, staar volgens die jongste Munisipale Prestasiemoniterings­verslag finansiële krisisse in die gesig.


Twee munisipaliteite wat onder die Weskus-distriksmunisipaliteit val, tesame met nog ses ander in die Wes-Kaap, staar volgens die jongste Munisipale Prestasiemoniterings­verslag finansiële krisisse in die gesig.

Die Provinsiale Tesourie het die munisipaliteite van Matzikama en Cederberg na gelang van die verslag uitgewys as kwesbare munisipaliteite in die Weskus wat almal dringende bystand benodig.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het dit Woensdag 21 Augustus tydens ’n vergadering van die Wes-Kaapse Regeringskabinet in Beaufort-Wes bekendgemaak.

Hy het gesê hoewel die provinsiale regering dié twee munisipaliteite en nog ses in die Overberg, die Tuinroete en die Sentraal-Karoo bystaan, berus die onus op hulle om die nodige stappe te doen om hul geldsake te stabiliseer en dienslewering aan inwoners te herstel.

Die ander probleem-munisipaliteite is Theewaterskloof in die Overberg-distriksmunisipaliteit, Bitou (voorheen bekend as die Plettenbergbaai-munisipaliteit), Kannaland en Knysna in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit asook Laingsburg en Beaufort-Wes in die Sentraal Karoo-distriks­munisipaliteit.

Winde het ’n beroep op alle munisipaliteite gedoen om saam met die regering aan finansiële volhoubaarheid in die belang van die Wes-Kaap se inwoners te werk.

Volgens hom monitor die provinsiale tesourie munisipale prestasie noukeurig, insluitend munisipaliteite in finansiële nood en kwesbare munisipaliteite.

Die Cederberg-munisipaliteit bedien die dorpe Clanwilliam (hoofkantoor), Cederberg, Citrusdal, Lambertsbaai, Elandsbaai en Graafwater en omliggende landelike gebiede.

Die Matzikama-munisipaliteit bedien die dorpe Vredendal (hoofkantoor), Vanrhynsdorp, Klawer, Lutzville, Ebenhaezer, Doringbaai, Strandfontein en omliggende landelike gebiede.

Die vergadering in Beaufort-Wes was deel van ’n kabinetsuitreik waartydens Winde en ander kabinetskollegas persoonlik met inwoners gesels het oor hul uitdagings, bekommernisse en idees vir “die bou van ’n beter Wes-Kaap”.

You need to be Logged In to leave a comment.