Mumtaz Limitless, ‘n geregistreerde organisasie sonder winsbejag, wat in 2025 in Vredenburg gestig is, het ten doel om die gemeenskap op praktiese en liefdevolle maniere te dien.
Onder die leuse “Dien, bereik, onderrig – maak ‘n verskil, een projek op ‘n slag”, leef dié organisasie se lede hul geloof daagliks deur diens en omgeedade uit.
Anneli en Henk Steyn het die organi- sasie gestig om hoop te bring waar dit die nodigste is en met deernis te dien. Daar is geen grense vir hul uitreikings- projekte nie en hulle glo in geleenthede waar daar vir ander beperkings is.
“Ons dien met liefde. Ons reik uit met ‘n doel en ons onderrig vir die toekoms,” vertel die Steyns, wat deur opvoeding, uitreik en dissipelskap hul Christelike opdrag om elke generasie te beïnvloed, uitleef.
“In Markus 16 vers 15 staan ‘Gaan die wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele skepping’, en dit is die opdrag wat ons baie duidelik van die Here ontvang het”, sê Henk.
“Ons wil graag die gemeenskap bereik, vir mense hoop gee en Jesus se karakter uitleef, om deur ons werk die evangelie te versprei.”
Sedert die ontstaan van Mumtaz Limitless het die span reeds ‘n merkwaardige verskil gemaak, soos in Lena Bester (60) se lewe. Sy kan getuig van hul hulp en bystand, want sy het in ‘n hout-en-sink-huisie gebly. Nadat sy aangerand is en alles verloor het, het Mumtaz van haar uitdagings gehoor en uigereik.
Met behulp van die Abundant Life-span en die ruim skenkings van individue en maatskappye word ‘n baksteenhuis tans vir Lena gebou.
Mumtaz Limitless sorg vir kos en noodvoorrade vir behoeftige gesinne, leer kinders morele waardes en van karakter deur hul poppekasvertonings by skole, en fokus ook op jeug- en vrouebemagtiging.
Hul jeuggroep vergader elke Dinsdag en ‘n jukskei-klub bring oud en jonk bymekaar om gesinsverhoudings te versterk. Daar is ook ‘n gratis Bybelskool vir almal wat geestelik wil groei.
“Ons trotsste oomblikke is wanneer ons sien hoe lewens verander,” sê die stigters. “Elke klein oorwinning bring hoop.”
Die Steyns kyk met groot drome na die toekoms. Hul visie sluit in leierskapskampe, gesinsnaweke en gesondheidseminare – alles om ‘n gesonde, liefdevolle gemeenskap te bou waar mense hul waardigheid en selfvertroue kan herwin.
• Die publiek word genooi om betrokke te raak. Skakel Mumtaz Limitless by 081 026 8176 of stuur ‘n e-pos-navraag na info@mumtazlimitless.org vir nog inligting.


