MSS-sekuriteit wel gelikwideer

Hoewel gerugte al ’n geruime tyd reeds die ronde doen en reeds beslag gelê is op voertuie, kantoormeubels en beheerkamertoe­rusting van MSS- private veiligheids­maatskappy in Langebaan, het Weslander vandeesweek bevestig dat die maatskappy wel gelikw


Hoewel gerugte al ’n geruime tyd reeds die ronde doen en reeds beslag gelê is op voertuie, kantoormeubels en beheerkamertoe­rusting van MSS- private veiligheids­maatskappy in Langebaan, het Weslandervandeesweek bevestig dat die maatskappy wel gelikwideer is.

AR24, ’n gevestigde sekuriteitsmaatskappy van Malmesbury en wat ook die Saldanhabaai-, Swartland- en Bergrivier-munisipaliteite bedien, het intussen MSS se sake oorgeneem.

Andro Engelbrecht van AR24 stel MSS-kliënte gerus dat Alex Alarms vir eers in die Weskusdorpe instaan om kliënte van diens te wees. Dié samewerkingsooreenkoms tussen AR24 en Alex Alarms geld al drie jaar.

Rynette Pieters van BDO-likwidateurs het bevestig dat Engelbrecht aangestel is om MSS se belange te bestuur.

Malmesbury Security Services (MSS) is volgens haar al sowat vyf jaar gelede gelikwideer, maar dit het intussen onder verskeie ander name handel gedryf.

Pieters se hooggeregshofaansoek om die “korporatiewe sluier” oor MSS se doen en late te lig, is goedgekeur, waarna die ondersoek die verskillende entiteite uitgelig het.

Pieters het bevestig dat AR24 se aanbod vir MSS se kliëntebasis en beheerkamertoerusting aanvaar is en die toerusting reeds na AR24 se kantoor in Malmesbury verskuif is. ’n Kontrak is met AR24 gesluit om MSS se bestuur oor te neem. Volgens Engelbrecht is AR24 besig om die ses nuwe voertuie te brandmerk om oor twee weke in die Weskus te ontplooi. Dit sluit ook MSS-kliënte in Atlantis in waar ’n AR24-voertuig reeds in werking is.

AR24 se hoofkantoor is in Malmesbu­ry en is besig om die MSS-kantoor in Langebaan in ’n AR24-kantoor om te skep.

Jaco de Villiers, ’n MSS-kliënt, het hom na sosiale media gewend om sy ontsteltenis uit te spreek oor die feit dat MSS steeds geld by hom aftrek. “Ek is sekerlik nie die enigste MSS-kliënt wat steeds gedebiteer word nie, selfs nadat MSS geweier het om die feit te erken dat hulle besig was om te sluit,” het De Villiers geskryf.

Engelbrecht het verduidelik kliënte hoef nié bekommerd te wees dat betalings steeds geskied nie, want die likwidateurs het reeds ’n maand gelede beheer oor die betalings geneem. Solank as wat kliënte hul kontraktuele verpligtinge nakom, sal iemand aan die ander kant van hul paniekknop­pie of alarm wees om op hul oproep om hulp te antwoord – hetsy dit personeel van AR24 of Alex Alarms is.

Kliënte wat navrae oor MSS se likwidasie het, kan Pieters by 082 376 9690 bel. Vir tegniese navrae, bel AR24 by 086 024 2424.

You need to be Logged In to leave a comment.