Die motorfietsryer, wat Sondagoggend 16 Julie in ’n ongeluk in Deurweg, Vredenburg, beseer is nadat ’n motor uit Alpha-singel voor hom ingery het, is by die huis en sterk aan.
Weslander het op 20 Julie berig dat Michiel Vollgraaff (30), ’n lid van die Mac’s-motorfietsklub, ernstige inwendige beserings opgedoen het en noodoperasies moes ondergaan.
Vollgraaff, bekend as “Tiny”, wat Tiny’s Auto Repairs in Velddrifweg besit, sê sy linkerarm kan dalk nog tot ’n jaar neem om heeltemal te herstel, maar andersins gaan dit goed.
“Ek is elke dag dankbaar om nog hier te wees.”
Vollgraaff was dié oggend omstreeks 09:45 op pad terug huis toe nadat hy ’n draaitjie by sy vrou, Jeanine, se werk by Wino Juweliers in die Weskus Mall gaan maak het.
’n Wit BMW, wat vermoedelik die stopteken verontagsaam het, het van die linkerkant af voor hom ingery.
Vollgraaff se swart Honda CBR1100XX Blackbird het die BMW getref, waarop sy milt gebars en sy linkernier afgeskeur het.
Vollgraaff is uiters dankbaar teenoor Rika en Loot van der Walt vir hul bystand en hulp. Hulle was eerste op die ongelukstoneel.
Hy was ook baie beïndruk deur die personeel van West Coast Medical Rescue, wat deur hulle korrekte evaluasie van sy toestand toegesien het dat hy vinnig die regte mediese behandeling met sy aankoms by die hospitaal kry. Vollgraaff bedank ook dr. Gerrie Steenkamp.