Die verhoor van die vermeende moordenaar van ’n 13-jarige tienerseun van Klawer, Daniël Smit (58), het op Maandag 7 Oktober in die rondgaande hooggeregshof in Vredendal begin.
Smit staan tereg op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, moord, skending van ’n lyk en regsverydeling.
Hy word daarvan beskuldig dat hy op 2 Februarie 2022 naby Nieuwoudt- en Kerkstraat in Klawer vir Jerobejin van Wyk (13) ten aanskoue van ooggetuies met sy Ford Bantam-bakkie raakgery het, nadat Van Wyk en van sy maatjies glo mango’s uit Smit se tuin gesteel het.
Volgens die staat se akte van beskuldiging het Smit vir Van Wyk glo hierna in die bakkie na sy huis in Tweedelaan geneem waar Jerobejin vermoedelik met ’n mes vermoor is.
Sy lyk is later opgekap, verbrand en in twee dreine en in ’n oliedrom versteek. Die polisie het die oorskot in die dreine gekry, maar die nuwe eienaar van die perseel, ’n sakeman van Vredendal, het op die liggaamsdele in die oliedrom afgekom.
Smit word ook van regsverydeling aangekla omdat hy die gereg glo opsetlik gedwarsboom en regspleging belemmer het deur aanvanklik ’n klomp leuens aan die polisie te vertel om hulle te probeer mislei.
Hy het beweer dat hy vir Van Wyk kos gegee het, waarna die tiener glo daar weg is.
Smit is volgens Die Burger op 4 Februarie 2022 in hegtenis geneem.
Hy is later vir psigiatriese waarneming na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal verwys, waar die psigiaters bevind het dat hy bevoeg is om verhoor te word.
Smit, wat nie om borgtog aansoek gedoen het nie, se familielede het destyds beweer dat hy sedert sy tienerjare by die okkulte betrokke is.
Regter Hayley Slingers het Smit se saak tot 21 Oktober uitgestel sodat die staat sy pleitverduideliking ingevolge Artikel 112 van die Strafproseswet kan deurgaan.