Die vermoorde Elrico “Rico” Byl (27) in al sy fassette. Sy moordenaar is tot almal se vreugde op Dinsdag 24 Junie in die Vredenburg-streekhof tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Die man wat verlede jaar vir die wrede dood van die netbalafrigter Elrico “Rico” Byl (27) van Diazville, Saldanha, in hegtenis geneem is, gaan 25 jaar in die gevangenis deurbring.

Enrico Byl.
Enrico Byl.

Wesley Snyders (19) het Dinsdag (24 Junie) in die Vredenburg-streekhof verskyn en op die aanklag van moord skuld beken.

Eric Ntabazalila, ‘n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het bevestig dat Snyders 25 jaar regstreekse gevangenisstraf opgelê is nadat hy erken het dat hy Byl gesteek, met ‘n klip geslaan en hom van sy selfoon beroof het.

“Dit is nadat die twee mans seks op die strand in Saldanha gehad het,” het Ntabazalila gesê. Snyders het ná die ontmoeting besluit om Byl van sy selfoon te beroof, maar Byl het weerstand gebied en wou nie die selfoon oorhandig nie.

Snyders het hom hierop meer as twintig keer oor sy hele lyf met ‘n mes gesteek en die oorledene het op die grond geval. Snyders het ‘n klip wat naby was, geneem en hom daarmee op die kop geslaan. Hy het toe die selfoon geneem en weggehardloop.

Volgens die pleit- en vonnisooreenkoms wat Snyders met die staat gesluit

het, was hy ten tyde van die moord en roof onder die invloed van dwelms. Hy het egter aan die hof erken dat hy in elk geval van plan was om Byl te beroof en daarna dood te maak.

Die hof het gelas dat Snyders twee derdes van die 25 jaar direkte gevangenisstraf moet uitdien voordat hy op parool geplaas kan word. Hy is ook ingevolge Artikel 103 van Wet 60 van 2000 ongeskik verklaar om ooit weer ‘n vuurwapen te mag besit.

Die gemeenskap van Diazville het die vonnis met vreugde aangehoor.

Byl is op Sondag 14 Januarie die laaste keer lewend gesien toe hy sy woonplek in Oesterstraat verlaat het.

Sy familie het dié gewilde inwoner “met ‘n hart van goud” op Maandag 15 Januarie by die Saldanha-polisiekantoor as vermis aangemeld.

‘n Soekgeselskap van gemeenskapslede het Byl se lyk twee dae later – op Woensdag 17 Januarie 2024 – op die berugte stuk strand naby die Tabakbaai-vakansieoord aan die seekant van Diazville gekry. Dié stuk strand het deur die jare al verskeie lyke opgelewer.

Die polisie het destyds gesê Byl het oop wonde aan sy lyf en gesig gehad. Weslander het verlede jaar berig oor Byl se erge aanranding en marteling voor sy dood.

Sy buitengewoon gewelddadige dood het sowat 200 mense genoop om op Vrydag 19 Januarie na die Saldanha-polisiekantoor op te ruk om vir geregtigheid te pleit.

Petisies opgestel

Latiefa Ehrenreich, die voorsitter van die Bo-Blok-buurtwag in Diazville, was deel van die soekgeselskap, die optog en die opstel van petisies om druk op die polisie vol te hou sodat die saak nie doodloop, soos wat met soveel ander moordsake in Diazville gebeur nie.

Sy het aan Weslander gesê daar is soveel moorde en skietgevalle in Saldanha, spesifiek Diazville, wat nie op ‘n suksesvolle ondersoek uitloop nie. “Vandag kán ons ‘n suksesverhaal vertel. Dit is ‘n glorious dag vir Diazville se community wat soos een saamgestaan het. Ons moes Rico in die eerste plek begrawe en ná sy begrafnis druk op die polisie en die speurders plaas. Ons het petisies opgestel en elke hofsitting bygewoon. Dit was die gemeenskap wat die inligting aan die polisie gegee het om op te volg.”

Speursersant Siyabonga Bara.
Speursersant Siyabonga Bara.

Speursersant Siyabonga Bara, wat die saak geërf en die ondersoek voltooi het, het die gemeenskap bedank vir die beduidende aandeel wat hulle in die suksesvolle inhegtenisneming en vonnis van Snyders gehad het.

Bara se motivering om in die ondersoek na die moordenaar te volhard, was die familie en vriende se absolute hartseer en verslaentheid oor Rico se dood.

Die stemboodskap van ‘n vrou wat op sosiale media versprei is, het tot ‘n deurbraak in die saak gelei. Bara en sy span het met ‘n hele aantal mense onderhoude gevoer voordat hulle die vrou opgespoor het. Haar onderhoud het hulle op Snyders se spoor gesit.

Baie bly

‘n Gemeenskapslid het nóg ‘n belang- rike bewysstuk – Byl se selfoon – na die polisie gebring.

Snyders het die selfoon met die man “geruil” omdat hy glo nie daarvan gehou het nie.

Die inligting oor Byl se selfoon en DNS-toetse wat op Snyders se klere gedoen is, het tot sy inhegtenisneming gelei.

Bara is baie bly vir die familie se onthalwe dat geregtigheid geskied het.

“Ek wil graag die gemeenskap, die ooggetuies, die familie en die aanklaerspan bedank. Elkeen se bydrae het tot die suksesvolle vonnis gelei.”

Bara het selfs Weslander bedank vir die rol wat berigte oor die saak gespeel het. “Elke keer wat julle daaroor berig het, het mense wat dit gelees het, met nuwe inligting na vore gekom.”

Azale Arendse, die sekretaresse van die waarnemende Weskus-distrikspolisiebevelvoerder, Zukiswa Bavuma, se vrywillige administratiewe werk aan die dossier het volgens Bara ook tot die suksesvolle vervolging bygedra.

Die skuldige, Wesley Snyders.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025