Moordenaar lewenslank gevonnis

Terwyl geweld teen vroue aan die Weskus ’n vuishou ingekry het met die skuldigbevinding en vonnis­oplegging van die moordenaar van ’n plaaswerker van Piketberg, is die vermeende moordenaar van ’n Velddrif-vrou op borgtog vrygelaat.


Terwyl geweld teen vroue aan die Weskus ’n vuishou ingekry het met die skuldigbevinding en vonnis­oplegging van die moordenaar van ’n plaaswerker van Piketberg, is die vermeende moordenaar van ’n Velddrif-vrou op borgtog vrygelaat.

Leentjie “Antie Sus” Adams (57), ’n plaaswerker op die plaas Edelweiss in Piket-Bo-Berg, se lyk is Dinsdag 5 September 2023 – op haar man se verjaarsdag – ontdek.

Plaaswerkers het omstreeks 10:30 in die gras daarop afgekom, versteek onder sinkplate (“Man met misdaadrekord vermoor glo plaaswerker”, Weslander, 14 September 2023).

Leentjie is twee dae tevore as vermis aangemeld. Sy is die laaste keer op Saterdag 2 September gesien toe sy by haar dogter op ’n buurplaas gaan kuier het. Sy het hulle gegroet en met ’n bergpaadjie, wat die twee plase verbind, terug huis toe geloop.

Haar moordenaar, Michael Joubert (28), het voorgegee om haar te help dra aan pakkies, voordat hy haar sowat 5 km van haar huis verkrag en vermoor het.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, sê deeglike ondersoekwerk deur ’n span bekwame speurders, met speursers. Arthur Valentyn as ondersoekbeampte, het daartoe gelei dat geregtigheid seëvier.

Joubert is verlede week ná sy skuldigbevinding op aanklagte van verkragting en moord lewenslange tronkstraf opgelê.

In teenstelling hiermee is die familie van Susanna “Koekie” Diedericks (60) van Velddrif uiters teleurgesteld omdat haar vermeende moordenaar, Johannes Keyster (49), op borgtog van R3 000 vrygelaat is. Koekie is sewe dae ná haar sestigste verjaarsdag op Sondag 28 Julie in die vroeë oggendure vermoedelik deur Keyster met ’n baksteen doodgeslaan. Koekie was sowat ses maande in ’n verhouding met hom.

Koekie se lyk is Sondag 28 Julie naby die Riviera-drankwinkel langs die Carinus-brug ontdek (‘Ai, Koekie, ai tog’, Weslander, 1 Augustus 2024).

’n Bebloede Keyster het die voorval ná die tyd by die Laaiplek-polisie aangemeld, waarop hy in hegtenis geneem is.

Alida Diedericks-Smit (43), Koekie se dogter, voel dat die gereg haar ma in die steek laat en verstaan glad nie waarom Keyster borgtog gekry het nie. “Hoe kry iemand borgtog wat homself aan die polisie kom oorgee het? Dit is Vrouemaand . . . dit gaan my verstand te bowe.”

Alida was nog bitter klein toe haar pa, Gerrit Claassen, in 1989 naby die Carinus-brug verdrink het (“Lyk nog soek ná verdrinking”, Die Burger, 1 Maart 1989). Dit het volgens haar later aanleiding tot haar ma se swerwerslewe gegee, hoewel sy baie geliefd onder inwoners van die dorp was.

Keyster het Woensdag 14 Augustus in die Laaiplek-landdroshof verskyn en kom weer Woensdag 2 Oktober op aanklag van moord voor.

You need to be Logged In to leave a comment.