‘Moenie wag as iemand vermis raak – meld dit gou aan’

In die lig van twee tieners wat die afgelope tyd in die Weskus weggeraak het, wil die polisie se distrikskantoor dit weer benadruk dat die publiek onmiddellik iemand by hul naaste polisiekantoor as vermis moet gaan aanmeld, eerder as om hulle eerste


In die lig van twee tieners wat die afgelope tyd in die Weskus weggeraak het, wil die polisie se distrikskantoor dit weer benadruk dat die publiek onmiddellik iemand by hul naaste polisiekantoor as vermis moet gaan aanmeld, eerder as om hulle eerste na sosiale media te wend.

’n Veertienjarige meisie was verlede naweek vir ’n tydjie weg, maar is gelukkig later ongedeerd gekry. Haar familie – rasend van bekommernis – het oral op sosiale media ’n beroep op mense gedoen om hulle te help om haar op te spoor.

Die 19-jarige Romano Fredericks (berig op bl. 2) van die Hoërskool Louwville word sedert Saterdagaand 3 Augustus vermis. Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, is hy die daaropvolgende Dinsdag by die polisie as vermis aangemeld.

“Wanneer iemand verdwyn, is dit noodsaaklik vir die ondersoek dat die polisie onmiddellik in kennis gestel moet word. Daar is glad nie ’n wagtydperk om ’n vermiste aan te meld nie.”

Sy raai mense aan om ’n onlangse foto van die vermiste byderhand te hê as hulle na hul naaste polisiekantoor gaan.

Die polisie benodig onder meer ’n volledige beskrywing van die vermiste mense, waar hulle laaste gesien is, hul bewegings vooraf en hul kleredrag.

Die persoon wat die aanmelding doen moet ’n SAPD 55(A)-vorm voltooi om die polisie teen fopnuusverslae te beskerm. Dit gee ook die polisie die reg om die foto en inligting van die vermiste persoon te versprei, wat ook amptelike kanale op sosiale media insluit.

Families van vermiste mense word aangeraai om die ondersoekbeampte se kontakbesonderhede te hou en enige bykomende inligting soos wat dit beskikbaar word, aan dié beampte deur te stuur.

Indien ’n vermiste persoon gevind word of vrywillig terugkeer, moet die ondersoekbeampte onmiddellik laat weet word sodat die Buro vir Vermiste Persone in kennis gestel kan word sodat die persoon se besonderhede uit die stelsel verwyder kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.