Dit is baie maklik om in rande en sente vasgevang te raak wanneer dit by geld kom.

Die idee om R1 miljoen in die Lotto-boerpot te wen, laat jou hart dalk vinniger klop of jy spaar hard om R10 000 bymekaar te maak, maar wat gaan jy met die geld doen wanneer jy dit het?

Geld-ghoeroes meen spaar en geld belê is alles goed en wel, maar as jy nie ’n plan vir jou geld het nie, is dit maklik vir jou finansies om beheer van jóú te neem.

’n Salaris en loon het slegs waarde indien jy waarde daaraan heg.

Maak seker jy het ’n plan vir jou hardverdiende geld sodat daardie R10 000 ’n spog-vermaaklikheidseenheid kan word waar vriende en familie flieks en karaokeaande kan geniet.

Só ook is jou spaargeld nie net rande nie, maar ’n deposito vir ’n motor wat die gesin se vervoer meer gerieflik en veiliger as openbare vervoer kan maak.

Gee jou geld-doelwitte ’n naam, want om geld te belê of te spaar, is baie makliker as jy reeds weet dit gaan vir naskoolse studies of ’n eiland-vakansie.

Geld is nie iets om net te verdien of in te samel nie. Die ware waarde van geld lê in die geleenthede wat dit bied. Óf dit is om sorgvry mediese koste te dek óf om die kleinspan na die beste skool te stuur.

Almal se finansiële doelwitte is nie dieselfde nie. Een mens sien die Lotto-boerpot as ’n geleentheid vir finansiële sekuriteit (’n goeie aftrede of ’n veilige woonbuurt) en ’n ander sien dalk die avonture wat die geld kan bring (rondreis of ’n vinnige, duur ryding).

Daar is geen enkele “regte” doelwit vir geld nie, want elkeen se doelwit in die lewe is anders.

Indien jy dalk die ware waarde van jou rande vergeet, maak net ’n draai by een van die Weskus se vele welsyn-organisasies. Dié organisasies help mense wat honger, verwaarloos en moedeloos is met slegs ’n paar rand.

Dié organisasies ken die verskil wat rande kan maak en die geleenthede wat geld kan bied.

You need to be Logged In to leave a comment.