‘Moedertaal die sleutel tot sukses’

Vrydag 21 Februarie is Internasionale Moedertaaldag en Afrikaans.com moedige onderwysers en ouers aan om kinders te help om ’n liefde vir hul moedertaal te kweek.


Vrydag 21 Februarie is Internasionale Moedertaaldag en Afrikaans.com moedige onderwysers en ouers aan om kinders te help om ’n liefde vir hul moedertaal te kweek.

“Dis ’n feit: Moedertaal is jou sleutel tot uitnemendheid en om onderrig in jou moedertaal te ontvang, laat jou bo die gemiddelde uitstyg en gee jou die vermoë om saam met die bestes in die wêreld te praat,” meen Afrikaans.com.

Volgens Annelie van Jaarsveld van dié organisasie verbind moedertaal mense met hul kultuur en menswees.

“Dit maak jou wie jy is. Dis jou identiteit sodat jy die wêreld met selfvertroue in die oë kan kyk. Nog belangriker – in ons samelewing is dit deesdae ’n feit dat kinders Engels sal aanleer, kom wat wil, maar dis net ’n ouer (en grootouers) wat ’n kind sy moedertaal kan leer.

“En sodra jou kind sy moedertaal behoorlik onder die knie het, leer hy ’n tweede en derde taal heelwat makliker aan. Jy help jou kind dus met jou toewyding om meertalig te wees!”

Volgens die organisasie wonder baie ouers of dit steeds sinvol is om kinders in hul moedertaal te laat onderrig, maar meen mense word deur hul moedertaal bemagtig. Kinders het glo moedertaal nodig om hul kognitiewe ontwikkeling te verseker.

“Kinders leer makliker in hul moedertaal lees en skryf. Skryf is ’n tegniese aktiwiteit waardeur taal uitgedruk word en anders as gesproke taal, ontwikkel dit nie spontaan nie,” verduidelik Van Jaarsveld.

Dit is baie makliker vir kinders wat in hul moedertaal leer lees en skryf om die konneksie tussen gesproke en geskrewe taal te maak. . Besoek Afrikaans.com vir meer oor moedertaalonderrig. Onder die leerhulp-afdeling is daar toepaslike inligting en skakels met geskikte bronne.

You need to be Logged In to leave a comment.