Die Klawer-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag nadat Piet Mostert (61) van die plaas Rostra op Donderdag 16 Oktober vermoedelik ‘n epileptiese aanval gekry het terwyl hy ‘n trekker bestuur het. Hy is deur die omheiningsdrade en het met die trekker in die dam beland. Hy is op die toneel dood verklaar.
In Malmesbury is Taslima Dollie (25) van Mitchell’s Plain op Saterdagaand 18 Oktober omstreeks 22:00 op die N7 naby Malmesbury op ‘n ongelukstoneel dood verklaar. Die rede vir die motorongeluk word ondersoek.
’n Lid van die publiek het Sondag 19 Oktober omstreeks 20:00 die lewelose liggaam van Nyirenda Hambric (35) in die middel van die N7 by die Melkboomafdraai naby Klawer gevind. Die omstandighede rakende die voorval word ondersoek.
Elvis Ngcobo (49) het Maandag in die Klawer-landdroshof verskyn nadat hy Donderdagaand (16 Oktober) geweier het om sy rybewys aan ‘n verkeersbeampte te wys. Die beampte het Ngcobo aangesê om die vragmotor agter die weegbrug te parkeer, maar hy het probeer wegjaag. Die beampte het Ngcobo agterna gesit en voorgekeer, die vragmotor deursoek en op ‘n 9 mm-pistool met 20 stuks ammunisie afgekom. Ngcobo is in hegtenis geneem omdat hy nie ‘n lisensie vir die vuurwapen kon wys nie.
’n 13-jarige meisie is Vrydagoggend 17 Oktober in Piketberg aangekeer nadat sy ‘n kat erg mishandel het. Die minderjarige moet op Dinsdag 28 Oktober in die Piketberg-landdroshof verskyn.
’n Groep oproerige mense het Saterdagaand (18 Oktober) ‘n polisievoertuig se ruit uitgegooi toe die polisie ‘n onwettige sjebien in Steve Bikostraat, Laingville, St. Helenabaai, toegemaak het. ‘n Dossier vir ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging is oopgemaak.
Polisiebeamptes van Moorreesburg moes mediese behandeling ontvang nadat hulle Sondagoggend 19 Oktober om 01:35 met glasbottels gegooi is toe hulle by ‘n berugte sjebien gaan vra het dat die musiek sagter gestel word.
Vrydagoggend (17 Oktober) om 03:50 is Hilton Snyders (36) in Vygiestraat, Riebeek-Wes, met ‘n selfgemaakte houtwaentjie vol bierkratte en bottels opgemerk. Snyders het vir die polisie probeer weghardloop, maar is aangekeer. Hy kon geen redelike verduideliking gee oor waar hy die kratte en bottels gekry het nie. Hy verskyn op Woensdag 22 Oktober in die landdroshof in die dorp.
Nicolaas Heynse (28) is Vrydagaand in Cederbergstraat, Riebeek-Wes, in hegtenis geneem nadat inligting opgevolg is dat hy moontlik gesteelde goedere in sy besit het. Sy woonplek is deursoek waarna ‘n wapen en ammunisie, wat as gesteel aangemeld is, gevind is. Heynse het Maandag in die rondgaande landdroshof verskyn.
Die Malmesbury-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord nadat ‘n 30-jarige man Saterdagoggend (18 Oktober) omstreeks 02:30 in sy kamer in Chatsworth met ‘n skietwond in sy linker dy gekry is. Hy het mediese behandeling ontvang.
Jannie (45) en Moses (37) Pietersen het Dinsdag 21 Oktober in die hof verskyn op die moord op hul stiefbroer, Arrie Struis (53) van Koekenaap op Sondagmiddag (19 Oktober). Na bewering wou die slagoffer sy meisie se familie van sy perseel af jaag. Hy was met ‘n mes gewapen. Hy het probeer om een van die verdagtes met die mes te steek, maar die mes is by hom afgevat hy is self daarmee gesteek. Struis het Maandag weens sy beserings gesterf.
Die Citrusdal-polisie het Tanki Mani (39) in hegtenis geneem nadat hy glo Zakwenzane Mavela (27) Saterdagoggend (18 Oktober) om 04:10 op die plaas Keerom met ‘n mes doodgesteek het. Hy het Dinsdag in die hof verskyn.
Simon Ndlovu (29) is Maandagoggend (20 Oktober) om 00:10 in Voortrekkerstraat, Vredendal, in die linkerbors gesteek. Hy is op die toneel dood. Twee verdagtes is in hegteenis geneem en sal vandeesweek in die landdroshof verskyn. ‘n Derde verdagte is deur die oorledene in die gesig gesteek en hy het mediese behandeling in die Kaap ontvang.
Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.


