Die liggaam van ‘n onbekende man, vermoedelik iets in die vyftig, is die afgelope Saterdag (5 Julie) omstreeks 22:00 in die Hoofstraat van St Helenabaai gevind. Die man het voor ‘n aankomende voertuig ingeloop en is raakgery. Hy is op slag dood.
‘n Man, bekend as Gilbert, het verlede Donderdag- oggend (3 Julie) in sy hokkie in Middelpos, Saldanha, doodgebrand. Die omstandighede rakende die brand word ondersoek.
Melcom Klaase van Piketberg het Vrydag (4 Julie) in die landdroshof verskyn nadat hy met ‘n luiperdvel, waarvoor hy nie ‘n permit kon toon nie, in hegtenis geneem is. Dit is Dinsdagmiddag 1 Julie in Langstraat in sy besit gevind.
’n 25-jarige vrou was Saterdag (5 Julie) omstreeks 01:00 in ‘n drinkplek in Vredenburg toe ‘n onbekende vrou, wat langs haar 30-jarige ekskêrel gesit het, haar roep. Die vrou het nader gestap, waarop die gewese kêrel na bewering opgestaan en haar deur die gesig geklap het. Die ekskêrel het die plek verlaat en die aangerande vrou het hom na buite gevolg.
Hy het na bewering in sy voertuig weggery, maar
blykbaar teruggedraai. ‘n Vriend van het glo die vrou vasgehou, waarna die ekskêrel glo oor haar regtervoet gery het. Hy het Maandag in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van poging tot moord verskyn.
‘n 23-jarige man moes mediese behandeling ontvang nadat skote op sy hokkie in Cloetestraat in Louwville, Vredenburg, afgevuur is. Hy is op Sondag (6 Julie) omstreeks 05:00 in die bors geskiet. Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
Franco Hahn (43) is op Woensdag 2 Julie omstreeks 02:45 vasgetrek waar hy in ‘n oprit geskuil het met vermoedelik gesteelde goedere in sy besit. Hy het Donderdag in die landdroshof verskyn.
‘n Iphone-selfoon, Iphone-horlosie en ‘n sonbril ter waarde van R38 000 is uit ‘n vakansieganger se tent by Tietiesbaai gesteel toe hy op Sondag 29 Junie die oggend gaan bad het.
Kirwin Maarman (19) van Lutzville het Vrydag (4 Julie) in die landdroshof op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer verskyn nadat hy glo die 28-jarige winkeleienaar die vorige Woensdagaand met ‘n klip gegooi het. Maarman wou muntstukke vir note verruil, waarop die eienaar geweier en Maarman met die eienaar begin baklei het. Die eienaar het ‘n kopwond opgedoen.
‘n Wit Bigboy-motorfiets van ‘n 22-jarige Kongolese burger is tussen Vrydagnag en Saterdagoggend uit ‘n erf in Ongegund, Vredenburg, gesteel.
Ruben Jacobs (38) het Maandag (7 Julie) in die Lutzville-landdroshof op aanklagte van dronkbestuur, dwarsboming van die gereg, verset teen inhegtenisneming en aanranding met die doel om ernstig te beseer, verskyn. Hy is Saterdag (5 Julie) om 03:10 in Magnetitestraat gesien waar hy heen en weer gery het. Die polisie het hom agternagesit, waarna by die stopstraat uit sy voertuig gespring en die polisielede na bewering aangerand het.


