‘n 40-jarige man is na die Somerset-hospitaal oorgeplaas nadat hy Saterdagoggend 28 Junie om 02:25 in Kooitjieskloofstraat, Vredenburg, gevind is waar hy in ‘n plas water met meswonde gelê het. Die slagoffer het ‘n meswond onder sy linkerarm gehad en sy maag was ook oopgesny. Die Vredenburg-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
‘n Geregtelike doodsondersoek is geopen nadat ‘n onbekende man Woensdagoggend 25 Junie met ‘n elektriese kabel nog in sy hand in Saartjie Baartmanstraat, Vredenburg, dood aangetref is.
Hermanus Hugo (31) van Malmesbury het aan polisiebeamptes erken hy het ene Vuyani, wat sowat dertig jaar oud is, Saterdagoggend (28 Junie) verwurg. Die twee het na bewering saam dwelms gebruik toe Vuyani met Hugo begin baklei het. Hugo het hom gewurg totdat hy op die grond geval het. Hugo het Maandag (30 Junie) in die Malmesbury-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Nimrod Jantjies (18) het op Maandag 30 Junie in die Lutzville-landdroshof op aanklag van moord verskyn. Hy het Christo Januarie (18) Vrydagaand (27 Junie) na bewering met ‘n mes doodgesteek. Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.
’n Moordsaak word ondersoek nadat Phemelo Letselebe (31) op Saterdag 21 Junie in die Tygerberg-hospitaal dood is weens beserings wat hy by sy werk opgedoen het. Francois Anderson (21) het Letselebe na bewering aangerand. Anderson het reeds Vrydag 27 Junie in die Riebeek-Wes rondgaande hof verskyn.
Vriende van Athi Simalelo (28) het die Riebeek-Wes-polisie se hulp Sondagaand 29 Junie gevra nadat hulle hom op sy bed sien lê het, maar hy het nie gereageer het nie. Die veiligheidsdeur moes oopgebreek word om toegang te verkry. Simalelo is dood met ‘n meswond aan sy nek gekry.
Drie mans – onderskeidelik 29, 35 en 39 jaar oud – is Saterdag 28 Junie om 01:45 in Holomisastraat in Ilinge Lethu met skietwonde gekry. Een slagoffer is in die kop geskiet, ‘n ander in die bors en een in die arm. Die Malmesbury-polisie ondersoek klagtes van poging tot moord.
Die 18-jarige Eston Geswint is Sondag 29 Junie in die Swartland-hospitaal dood nadat ‘n 15-jarige hom glo met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan het. Die minderjarige beskuldigde het Dinsdag 1 Julie in die Malmesbury-landdroshof verskyn.
Lena Ockhuis (52) het na bewering Dinsdagoggend 24 Junie om 07:00 voor ‘n aankomende voertuig ingeloop. Sy is op die toneel in Voortrekkerstraat, Vredendal, oorlede. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag.
’n Hond is Saterdag 28 Juniena die dierekliniek in Vredendal geneem nadat sy eienaar hom probeer ophang het.