• Die 24-jarige Ntobeko Jako het die afgelope Vrydag (20 Junie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hy Woensdag 18 Junie in St. Helenabaai amok gemaak het. Hy het Johannes Mandingula (45) en twee ander mans, onderskeidelik 44 en 28 jaar oud, omstreeks 11:20 met ‘n mes by die Total Garage bygedam. Mandingula is na die

Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem, waar hy aan sy wonde beswyk het. Die ander twee mans het behandeling vir messteke aan die bolyf ontvang. Die St. Helenabaai-polisie ondersoek klagte van moord en poging tot moord.

• Geraldo Josephs (22) is in St. Helenabaai in hegtenis geneem nadat hy Vrydag (20 Junie) omstreeks 19:15 twee agtienjarige mans in die bene geskiet het. Albei het die aanval oorleef. Josephs het Maandag in die Vredenburg-landdroshof verskyn.

• ‘n 69-jarige man en sy vrou is Sondagaand (22 Junie) om 20:00 deur drie onbekende mans in hul huis in Yzerfontein oorval. Die rowers was met messe bewapen en het die egpaar beveel om stil te bly, waarna hulle met skoenveters vasgebind is. Die rowers het met die klaer se vuurwapen, persoonlike eiendom en hul Toyota Urban Cruiser gevlug. Die voertuig is later in Brackenfell verlate gevind. Die Darling-polisie ondersoek ‘n klagte van huisroof.

• Die Vredenburg-polisie ondersoek verskeie sake van roof. ‘n 38-jarige man van Ongegund is Sondag (22 Junie) om 00:15 in sy hokkie deur ‘n onbekende man met ‘n vuurwapen gedreig. Die slagoffer het mense buitekant hoor praat, waarop die rower hom met die vuurwapen oor die kop geslaan en met sy selfoon, klere en ‘n gasbottel gevlug het. In nog ‘n huisroof op dié dag, omstreeks 07:00, het ‘n man met ‘n kwaai hond ‘n 39-jarige man se elektriese “boks” geëis. Die rower het ook ‘n vuurwapen by hom gehad. Hy het die elektriese “boks” gevat en geloop.

• ‘n Saak van roekelose en nalatige bestuur is in Velddrif by die Laaiplek-polisie aangemeld nadat ‘n man Sondagmiddag (22 Junie) sy motor se enjinrewolusies in Aristeastraat in Noordhoek aangejaag het. Hy het weggetrek, beheer oor die voertuig verloor en ‘n voetganger getref. Die voetganger se bene is beseer en die bestuurder het weggejaag.

• Die 17-jarige Mivuyo Mama is Vrydagmiddag op die N7 naby die gholflandgoed by Malmesbury deur ‘n voertuig getref. Mama is op die toneel dood.

• Nóg beendere is Woensdagoggend (18 Junie) in die Weskus Nasionale Park gevind. Die polisie stel ondersoek in.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 10 July 2025
    Weslander E-Edition – 10 July 2025