Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
◘ ’n Lesotho-burger, Sekonyela Tlotoloane (41), is Sondag 2 November om 00:50 met meswonde in die Hoofstraat van Clanwilliam gevind. Hy is op die toneel oorlede. ‘n Moorsaak word ondersoek.
◘ Die polisie op Moorreesburg doen ‘n geregtelike doodsondersoek nadat die lyk van ‘n onbekende man Vrydag 31 Oktober omstreeks 18:15 deur werkers op ‘n plaas in die Moorreesburg-omgewing gevind is.
◘ Samuel Spagenberg (39), wat al skuldig bevind is aan onwettige drankverkope, is Saterdag 1 November om 01:30 in Hoofstraat, Eendekuil, aangekeer nadat hy in ‘n bakleiery betrokke was. Hy het hom teen inhegtenisneming verset. Hy het Maandag in die hof verskyn.
◘ Saterdag 1 November om 01:00 het Irvin Owies (51) van Vredendal ‘n 36-jarige vrou se meubels verniel, haar aan die keel gegryp en met ‘n mes in die kop gesteek. Sy eerste hofverskyning was Maandag 3 November. ‘n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer word ondersoek.
◘ In Lambertsbaai het Andries van Wyk (50) Maandag 3 November in die landdroshof verskyn omdat hy na bewering honde vergiftig het. Hy is verlede Vrydag in hegtenis geneem.
◘ Tambisai Mutambisi (49) het Maandag in die Klawer-landdroshof op aanklag van diefstal verskyn nadat hy glo twee vragmotorbatterye tussen Donderdagaand en Vrydagoggend op die plaas Uitkoms gesteel het.
◘ Eugene Cloete (20) van Lutzville het Maandag in die landdroshof verskyn weens twee aanrandingsklagte. Hy het na bewering Donderdag 30 Oktober om 10:00 sy 17-jarige eks-meisie in haar huis aangerand. Om 10:15 het hy ‘n 18-jarige man in Sonneblomstraat met ‘n panga aangeval. Cloete is in 2024 skuldig bevind aan aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging.
◘ ’n Tienerseun van Moorreesburg het Maandag 3 November in die landdroshof verskyn nadat hy ‘n bankkaart uit ‘n voertuig gesteel het. Hy is 13 jaar oud.
◘ Op Donderdagoggend (30 Oktober) is ‘n 14-jarige seun van Vredendal vir winkeldiefstal aangekeer toe hy vir homself ‘n paar oorfone wou vat. Sy hofverskyning is komende Vrydag (7 November).
◘ Greywin Waterboer (25) en Joseph Morake (47) is Saterdagoggend omstreeks 07:30 aangekeer nadat hulle drade op ‘n plaas in die Klawer-omgewing geknip het en pale van die plaas gesteel het. Hulle eerste hofverskyning was Maandag (3 November).
◘ In Citrusdal sal ‘n 22-jarige man Donderdag 11 Desember in die landdroshof verskyn nadat hy Saterdag 1 November glo ‘n 90-jarige vrou aangerand het.


