Die Weskus-polisiedistrik loop die afgelope tyd onder sogenaamde “kontakmisdade” soos poging tot moord deur.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, ervaar hulle gewis ‘n styging in dié soort misdade.
Darryl Persens (25) is Sondag 18 Mei net ná middernag in Tafelbergstraat, Riebeek-Wes, aangetref, waar hy aan sy wonde beswyk het. Twee verdagtes is aangekeer en sal deur die loop van die week in die rondgaande hof in Riebeek-Wes op aanklag van moord verskyn.
Niklaas Meyer (50) is vroeër in Mei in Clanwilliam in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy 45-jarige vrou met ‘n mes bygedam het. Op Sondag 11 Mei het die slagoffer op die bed in hul kamer gelê en haar man gevra om die ketel aan te skakel. Meyer het egter uit die kombuis gekom met ‘n mes en haar vier keer gesteek. Hy het weggehardloop, maar is aangekeer en het op Maandag 19 Mei in die landdroshof in die dorp verskyn. Die slag-
offer kon weens haar beserings eers ‘n paar dae ná die aanval ‘n klagte gaan aanmeld. Die Clanwilliam-polisie ondersoek sake van poging tot moord en die verontagsaming van ‘n beskermingsbevel.
‘n Rusie tussen twee mans in Klawer het verlede Woensdag (14 Mei) om 10:00 tot ‘n messtekery gelei. Jo-Mark Sterkse (18) word daarvan aangekla dat hy ‘n 40-jarige man ná ‘n stryery in Volstruissingel met ‘n mes bygekom het. Sterkse het reeds Vrydag (16 Mei) in die landdroshof verskyn, waar die saak tot Woensdag 21 Mei uitgestel is.
‘n 30-jarige man is Vrydag (16 Mei) omstreeks 23:15 langs die treinspoor in Kwartelstraat, Witteklip, twee keer in die linkerbeen geskiet. Ná sy ontslag die volgende dag uit die Vredenburg- provinsiale hospitaal is hy egter op aanklag van die besit van ongelisensieerde ammunisie aangekeer. Sy eerste hofverskyning was die afgelope Maandag (19 Mei).
Die polisie van Langebaan het Sondag (18 Mei) om 11:30 inligting ontvang oor iemand wat in besit is van onwettige dwelms. Die verdagte is opgespoor en terwyl ‘n polisiebeampte die man deursoek het, het die verdagte hom gebyt en losgeruk. Die verdagte is aangekeer en sal vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van poging tot moord verskyn.
Chelton Samuels (38) het Vrydag (16 Mei) omstreeks 22:00 na bewering ‘n 22-jarige man in Duineveldstraat, Hopefield, met ‘n skroewedraaier aangeval. Samuels was glo in ‘n huis in die straat en die eienaar van die huis wou hom uit die huis kry en die slagoffer het probeer help. Hy is in die proses beseer. Samuels het Maandag (19 Mei) in die landdroshof op ‘n aanklag van aanranding verskyn.

